Mnr. Hennie Grobbelaar van die plaas Gannaput in die distrik Jacobsdal is die knaphandige
lid van sy familie wat op plase in die Suid-Vrystaat boer. Hy het teen die geringe koste van sowat R1 000 enkele stukke nuwe staal aangeskaf, maar die res van die bestanddele van sy baallaier op die skrootwerf van sy plaas gevind.
Die doel van dié hulpmiddel is om arbeid te bespaar en die op- en aflaai van bale lusern van vragmotors te vergemaklik, asook die regpak van bale op 'n mied. Die eenvoudige struktuur stel hom in staat om dié werk met die hulp van slegs een werker te verrig. Om bale gemaklik te verskuif is vier mans dikwels nodig.
Die materiaal wat hy gebruik het, is kanaalyster (6 m-lengtes) vir die struktuur van die toestel, platyster, asse met 'n deursnit van sowat 20mm, 'n ou spilpunt-motor wat teen lae omwentelinge loop en nie 'n ratkas benodig nie en kleiner onderdele,
soos drie ratte.
Grobbelaar beveel aan dat asse van staal gebruik word in plaas van die yster wat hy
in sy laaier gebruik het. Hy sê as die bale ophoop en nie vinnig genoeg verwyder
kan word nie, kan die ysterasse weens die stremming makliker buig.
Nog 'n voorgestelde verbetering op sy oorspronklike toestel, is die gebruik van 'n
dikker ketting as die een van 'n stampbaler wat hy ingespan het.
Die baallaaier stel drie mense in staat om sowat 400 bale in minder as 'n uur op
of af te laai. Indien daar genoeg mense is omdie laaiwerk te doen, kan die toestel ses
bale per keer hanteer. In die geval van twee mense is die tempo sowat vier bale per keer
op die toestel.
Landbouweekblad, 18 Januarie 2008