“Ek het verlede week bereken dat vir elke R1 miljoen wat bestee word om onderdele per lugvrag in te voer, daar 20 en ’n half vraghouers van 40 voet per skip ingevoer kan word.
Lugvragkoste het heeltemal buite verhouding gestyg. Dit is dus dalk raadsaam om eerder verder vooruit planne te beraam vir die nodige onderdele pleks van om dit in ’n kort tyd te wil bestel,” sê mnr. Karel Munnik, voorsitter van Salma. Hy meen die oplossing is beter samewerking tussen boere en hul onderdelehandelaar.
“Dit is al wat gaan help in hierdie tye waar daar ’n tekort aan onderdele en ’n groot vraag is: kommunikasie met jou handelaar en vroegtydige beplanning. Handelaars sukkel om voorraad in te kry. Dit help om die druk te verlig indien daar langer tyd ingeruim word vir verskaffing.”