'n Voertuigkleinhandelaar sê hulle het baie huiswerk gedoen en miljoene rande bestee om hul Chinese voertuie pas te maak vir die Suid-Afrikaanse mark, maar te oordeel na 'n toetsrit lê daar nóg 'n bietjie werk voor.
Met die bekendstelling van die Chinese Foton-paneelwa en -taxi en die Meiya-enkelkajuit- en dubbelkajuitbakkie asook 'n Meiya-stasiewa word die voertuigkleinhandelaar McCarthy Motor Holdings die jongste invoerder van Chinese voertuie na Suid-Afrika.
"Maar, verseker," sê mnr. Brand Pretorius, hoof-uitvoerende beampte van McCarthy Motor Holdings, "die proses het veel meer behels as die blote ondertekening van 'n paar kontrakte en die laai van die voertuie op skepe. Inteendeel, om seker te maak dat alles van meet af aan klopdisselboom verloop, het McCarthy sowat drie jaar gelede 'n voertuig-invoerafdeling begin".
Wêreldklasgeriewe, soos die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde (SABS) en Gerotek, sowel as die T?V Rheinland-groep in China, is ingespan om verskeie aspekte van die voertuie te toets. Die tegniese span het talle veranderings saam met die Chinese ingenieurs aangebring om die voertuie vir Suid-Afrikaanse padtoestande en spesifieke gebruike aan te pas en te verbeter.
Die McCarthy-tegnici, wat China die afgelope drie jaar meer as 30 keer besoek het, het 'n magdom kwaliteits-toetsritte in China onderneem, en groot vordering is gemaak om hierdie modelle te verbeter, veral wat die vermindering van geraas en vibrasie betref.
Die voertuie moes ook omgeskakel word na regterstuur, die binneruim het sterker materiale gekry, sitplekankerpunttoetse is gedoen en die standaardtoerusting is verbeter. Remtoetse is op die volledige reeks voertuie gedoen en verskeie verbeterings, onder meer aan die stuurstelsel, is aangebring om die Meiya se hantering en stabiliteit te verbeter. Wat die Meiya-bakkies betref, moes aanpassings ook gemaak word vir onder meer die montering van 'n trekstang en kappie, bybehore wat eenvoudig nie in China gebruik word nie.
Baie van die hierdie toetse was glo nie 'n voorvereiste vir plaaslike homologasie nie, maar McCarthy wou dubbel seker maak dat die gehalte bo verdenking is voordat die voertuie plaaslik bekend gestel word.
Mnr. Brett Soso, besturende direkteur van McCarthy se voertuig-invoerafdeling, het tydens die bekendstelling gesê, "die feit dat die reekse gesteun word deur die naasgrootste voertuigkleinhandelaar in die land, wat al langer as 97 jaar deel van die plaaslike motorbedryf is, onderskei Meiya en Foton van ander soortgelyke produkte wat tans in Suid-Afrika beskikbaar is."
Die Foton-paneelwa en -taxi word aangedryf deur 'n viersilinder-petrolenjin van 2,2 liter wat danksy 'n veelpuntbrandstofinspuitstelsel 76 kW drywing en wringkrag van 193 N.m lewer. Krag word deur 'n vyfgang-handratkas na die agterwiele oorgedra en die brandstoftenk hou 65 liter brandstof. Al twee modelle het 'n bruto voertuigmassa van 2 626 kg.
Die Foton-taxi is gesertifiseer as mensedraer met 13 sitplekke en voldoen aan die Regering se huidige vereistes vir die taxi-herkapitaliseringsprogram. Die taxi word gewaarborg vir een jaar of 40 000 kilometer terwyl die paneelwa se waarborg geld vir een jaar of 100 000 km.
Die Meiya-bakkies se laaibak, kajuit en kajuitbinneruim lyk soos dié van 'n ouerige Isuzu KB, terwyl die neus deur moderner hoofligte, 'n eie Meiya-sierrooster en voorstamper gekenmerk word. Op die oog af, lyk die Meiya, behalwe nou vir sy "eie" neusgedeelte, maar net soos die ander Chinese eentonners van CAM, GWM, Fudi, Soyat en Gonow wat onlangs in Suid-Afrika aangekom het.
Die Meiya-enjins toon beslis ooreenkomste met Toyota (al wil dié vervaardiger dit nie hoor nie) se beproefde, maar ouderwetse 4Y-petrolenjin wat 2,2 liter verplaas en met Isuzu se vroeë 2,8 liter turbo-diesel-enjin. Die 2,2 liter-petrolenjin word in die enkel- en dubbelkajuitbakkies sowel as in die twee stasiewamodelle gebruik, terwyl die 2,8-liter-turbodieselenjin ook gebruik word om van die bakkies aan te dryf.
Die viersilinder-inlynpetrolenjin met sy elektroniese veelpuntbrandstofinspuiting lewer drywing van 76 kW teen 4 600 r/min. en 190 N.m wringkrag teen 2 400 r/min..
Die viersilinder-turbodieselenjin lewer 68 kW drywing teen 3 600 r/min. en 202 N.m wringkag teen 2 300 r/min. Aandrywing geskied deur 'n vyfgang-handratkas na die agterwiele en die brandstoftenk hou 60 liter.
'n Leerraamonderstel met 'n onafhank-like voorveerstelsel met dubbele mikke en 'n vaste agteras met bladvere en skokbrekers word gebruik. Die laaibak, met 'n vragdravermoë van 830 kg, het dubbele wande en die remstelsel bestaan uit lugverkoelde skywe voor en trommelremme met 'n ladingsensor agter.
Kragstuur en hoogteverstelling vir die stuurkolom is standaardtoerusting. Die Deluxe-bakkiemodelle en al twee die Wagon-modelle het 'n lugsak vir die bestuurder.
Die intreevlakmodelle het 'n indrukwekkende toerustingslys, terwyl die Deluxe-weergawes met bykomende toerusting spog waaronder elektries-beheerde vensters en buite-truspieëls, lugversorging, 'n radio/CD-speler, afstand-beheerde sentrale sluiting en 'n leerbedekte stuurwiel. Die Meiya Wagon Deluxe pronk ook met leerbekleedsel, 'n dakrak, 'n ontwasemer vir die agtervenster en 'n agterste ruitveër.
Buiten die Meiya Wagon Deluxe met sy leerbekleedsel, is al die ander modelle toegerus met duursame en praktiese doekstofbekleedsel met 'n moderne ontwerp. Die reeks is beskikbaar in 'n verskeidenheid bakwerkkleure, soos rooi, 'n goudkleurige metaalverf, swart en wit. Mikroskopiese datastippels op ten minste 88 verskillende plekke op elke voertuig se komponente beteken dat die unieke VIN-nommer met 'n aftaster deur die polisie nagespeur kan word.
'n Lys naverkope-bybehore is vir die hele Meiya-reeks beskikbaar, waaronder 'n netjiese matstel vir die binneruim, 'n bosbreker, trekstang en kappie vir die bakkies.
Die meeste van die bakkies en paneelwaens/taxi's wat tans van China ingevoer word, lyk baie dieselfde en het mededingende pryse. McCarthy glo egter die oorlewing van 'n invoerder sal uiteindelik bepaal word deur die mate van ondersteuning wat gelewer sal kan word.
Foton- en Meiya-voertuie sal verkoop word deur die nuwe McCarthy Value Centres wat pas bekend gestel is en deur 'n nuwevoertuigafdeling vir die Chinese voertuie, McCarthy ValueServe (versiening en onderdele) asook deur Call-a-Car-vertoonlokale (gebruikte voertuie).
"Ons glo vas dat die deurslaggewende faktor in só mededingende mark die gehalte van die naverkopediens sal wees. Dit behels die beskikbaarheid van onderdele, opgeleide tegnici en voldoende waarborge," het Soso gesê.
Teen die einde van Julie was reeds 70 bykomende tegniese personeel, 17 onderdele-spesialiste en 17 verkoopskadette vir die Chinese voertuie touwys gemaak. McCarthy het reeds 12 Value Centres geopen en beoog om dit in die volgende jaar te verdubbel. Daar is ook reeds 29 McCarthy-beheerde ValueServe-versienings- en onderdelesentrums landwyd geopen. Dié sentrums sal professionele en volledige na-verkoopdienste teen bekostigbare pryse aan Meiya- en Foton-eienaars bied. In die praktyk beteken dit 'n netwerk van ten minste 40 dienspunte oor die hele land waar kliënte hul voertuie kan laat versien en herstel.
Tydens die Foton- en Meiya-debuut in Suid-Afrika was daar ongelukkig nie geleentheid om die paneelwa of die taxi te bestuur nie. 'n Kort rit in die taxi as passasier het egter my vermoede bevestig dat die Spartaanse binneruim ook harde sitplekke met baie beperkte beenruimte beteken. Dit beslis 'n voertuig wat meer geskik sal wees vir pendelaars as vir langafstandpassasiers.
Tydens die bekendstelling was daar 21 Meiya-voertuie beskikbaar vir toetsritte. Ek het twee bakkies en een van die Wagons bestuur.
Bakkie nommer een was 'n dubbelkajuit Deluxe met die 2,2 liter petrolenjin het hom heel skaflik gedra op teer- en grondpaaie. Die ratte het redelik glad geskakel en die bakkie het 'n gekose stuurlyn redelik getrou gevolg. Interessant is dat die enjintoere tot sowat 4 400 r/min. beperk word, terwyl die toereteller se rooilyngrens 'n goeie 1 000 r/min. verder strek. Die groot uitdaging is om die bakkie nie met die "moderner" Japannese eentonners te probeer vergelyk nie, het ek vir myself gesê, maar eerder te probeer onthou hoe die Japannese bakkies van die 1960' en 1970' gery het.
Bakkie nommer twee was nog 'n dubbelkajuit wat deur die 2,8 liter turbo-dieselenjin aangedryf word. Die bakkie se ratwisseling was stram en hakkerig, die dryfstelsel was opvallend lawaaierig, daar was 'n groot mate van stuurvaagheid en die lugversorger het nie gewerk nie. Dit was alles behalwe 'n plesier om met hom op 'n grondpad te ry.
Laaste in die ry was 'n Wagon 2,2 liter Deluxe met spanne laairuimte binne. Die ratskakeling was minder stram, die dryfstelsel minder lawaaierig en die stuurvaagheid miskien net 'n raps beter as dié van die dieselbakkie. Maar die lugversorger en, kan jy dit glo, die snelheids- en afstandmeter het ook nie gewerk nie.
Die sitplekke van die bakkie sowel as Wagon is maar aan die harderige kant en die montering en pas van die binnepanele is ook nie bo kritiek verhewe nie.
Pretorius sê self 'n mens moet onthou dat hierdie voertuie ou tegnologie verteenwoordig, maar 'n mens moet terselfdertyd ook onthou dat die pryse van 20% tot 40%laer is as dié van ander eentonners op die mark. Die koper moet dus self besluit of hy/sy eerder 'n tweedehandse Japannese eentonner of 'n nuwe Chinese bakkie gaan aanskaf.
Hoe dit ook al sy, met my ervaring tydens die bekendstellingsritte, lyk dit mos al asof McCarthy se 70 nuwe tegnici en 17 onderdelespesialiste by daardie 40 dienssentrums kan besig bly as die bakkies eers begin verkoop. Miskien lê 'n deel van die oplossing in 'n deeglike voorafleweringsinspeksiediens.
Immers kry die koper van 'n nuwe voertuig by 'n McCarthy Value Centre bykomende gemoedsrus in die vorm van outomatiese lidmaatskap van Klub McCarthy. Dit bied voordele soos 'n gratis padbystandsdiens en mediese noodhulpreaksie, afslag op versienings en lidmaatskap van 'n vakansieverblyfklub.
En daarby word nuwe Meiya-bakkies gewaarborg vir 12 maande en 'n onbeperkte afstand vir dié tydperk. Die versieningtussenposes is elke 15 000 km.
Pryse (BTW ingesluit)
Meiya 2,2 l enkelkajiut Pickup: R 89 900
Meiya 2,2 l enkelkajuit Pickup Deluxe: R106 900
Meiya 2,8 l enkelkajuit Pickup Deluxe turbo-diesel: R129 900
Meiya 2,2 l dubbelkajuit Pickup: R114 900
Meiya 2,2 l dubbelkajuit Pickup Deluxe: R126 900
Meiya 2,8 l dubbelkajuit Picup Deluxe turbo-diesel: R149 900
Meiya Wagon 2,2 l (stasiewa): R139 900
Meiya Wagon 2,2 l l Deluxe: R149 900
Foton View Taxi: R154 900
Foton Panel Van : R149 900
Landbouweekblad, 21 September 2007.