
Niemand kan presies sê waar die 1925 dorsmasjien vandaan kom en wie die boer is wat hom meer as 25 jaar gelede aan Sentraal-Suid Koöperasie (SSK) op Swellendam geskenk het nie.
“Daar is min inligting oor dié spesifieke 22 x 38 duim McCormick-Deering beskikbaar. Dit is sowat 98 jaar oud, maar die mense wat sy stories geken het, is reeds oorlede en het nooit enige inligting agtergelaat nie,” sê me. Annelie van Wyk, senior bestuurder van bemarking en kommunikasie by SSK.
Die groot McCormick-Deering is onlangs deur die strate van Swellendam vanaf SSK deur ’n hedendaagse New Holland-stroper na die museum begelei.
“Toe mnr. Eniel Botha van SSK die museum kontak om te hoor of ons in ’n ou dorsmasjien sou belang stel, het ons nooit gedink ons sou op só ’n seldsame vonds afkom nie,” vertel me. Anja Smith, die museumbestuurder.
“Die masjiene het ’n groot rol gespeel in die geskiedenis van die meganisasie van ons landbou-nalatenskap en ongelukkig is dit geneig om skrootmetaal te word. Sommiges beskou dit as té jonk om antiek te wees, té oud om funksioneel te wees en té groot om hanteer te word,” sê sy.
“Ons loop dus die gevaar om ’n integrale deel van ons gemeenskap se geskiedenis te verloor – veral hier op Swellendam waar die landbou die kern van ons ekonomie en geskiedenis is.
”Vir inwoners van die dorp was dit ’n ware genot om die ou dorsmasjien te kon aanskou. Maar die vervoer van ’n ou dorsmasjien, soos die McCormick-Deering, is geen maklike of goedkoop taak nie. SSK het nie net die dorsmasjien aan ons geskenk nie, hulle het ook aangebied om dit na sy nuwe plek by die museum te vervoer op sy koste met die hulp van Soill en die plaaslike verkeersdepartement. Daarsonder sou die museum nie die skenking kon aanvaar nie,” sê Smith.
Geskiendenis van ’n ‘ou siel’
Hoewel die herkoms van hierdie spesifieke masjien onseker is, het die McCormick-maatskappy self ’n lang geskiedenis.
Dié handelsnaam is vanaf 1923 tot in die laat 1940’s op toestelle gebruik. Die IHC-logo (International Harvester Co) is in 1902 gestig. McCormick en Deering het albei die logo gebruik, maar het steeds masjiene verkoop wat effens van mekaar verskil.
Die logo is steeds ná 1923 gebruik toe die handelaars saamgesmelt en McCormick-Deering tot stand gekom het.
“Omdat museums gewoonlik onderbeman en -gefinansier is, kan museums senuagtig wees om hul versamelings uit te brei om die volgende generasie artefakte in te sluit. In die meeste gevalle, soos nou, is dit slegs moontlik wanneer hulle die ondersteuning van plaaslike besighede en die gemeenskap kry.
“Dit was presies wat hier gebeur het. Dit is ’n droom wat waar geword het waarvoor ons diep dankbaar voor is.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.