'n Goedkoop selfgemaakte voertuig met vierwielaandrywing troef nie net ruwe terrein nie, maar help dié boer ook met die bestryding van probleemdiere.
Danksy 'n goedkoop vierwielaangedrewe voertuig wat hy self ontwerp en gebou het, is mnr. Fanie Smit van die plaas Weltevrede, Molteno, se probleme met probleemdiere en bergagtige terrein opgelos. Dié veldvoertuig, wat uit skrootmateriaal aanmekaar gesit is, het hom minder as R3 000 gekos.
Smit, wie se plaas in die Stormberge - 'n semi-Karoo-gebied - geleë is, sê hy het twee jaar gelede besluit om die voertuig te bou nadat hy raadop was met die onbegaanbare terrein en probleemdiere op sy plaas.
Om probleemdiere te bestry, was vir hom 'n groot probleem. Gewone tweewielaangedrewe voertuie verniel te veel op die onegalige terrein en kon boonop nie teen die hoë steiltes uitry nie. Gewone vierwielaangedrewe voertuie is duur en dit is boonop nie kostedoeltreffend om elke jaar nuwe voertuie te koop net om te kan boer nie, sê Smit.
Sy gemengde boerdery bestaan uit Dorperskape, lusern op 25 hektaar en vleisbeeste. Speenkalwers word geslag en sy vrou, Santa, maak en verkoop biltong en droëwors. Die spruit wat deur die plaas loop, maak lusernverbouiing moontlik. Die lusern word aan melkboere van die omgewing verkoop.
Die voertuig is hoofsaaklik uit skrootmateriaal gebou wat hy goedkoop op veilings en elders koop. Vir die onderstel het hy 'n Toyota-onderstel gebruik wat hy vir R50 in 'n township gekry het. Die Toyota-enjin van twee liter is tien jaar gelede vir R700 in Lesotho gekoop. Hy het van dié ingevoerde enjins gehoor en hy en 'n groep boere het twee bakkievragte vol daar gaan koop. Ál die enjins is intussen in Suid-Afrika geregistreer.
Nadat hy sowat 70 van hierdie enjins vir ander boere ingesit het, het hy besluit om met 'n eie voertuig te eksperimenteer.
"Ek was van jongs af lief vir ysters en koop niks as ek dit self kan maak nie. Ek bou trekkers op en maak self die meeste van my werktuie, soos stootskrapers, ploeë en lusernplanters, uit skrootyster wat ek goedkoop op veilings koop," sê Smit.
Smit het selfs sy vrou se worsstopper, vleismeul, biltongkerwer en -droër gemaak. Hy het ook sy eie kraglyne gebou - heelwat goedkoper as wat Eskom gekwoteer het.
Die veldvoertuig spog met 'n Mercedes-kragstuur en hanteer gevolglik maklik. Die aste en ratkas is dié van 'n Nissan Patrol. Sommige laers en aste is nuut gekoop.
Die petrolpedaal, koppelaar en remme het hy self gemaak, hoewel hy die hidrouliese silinders van ander voertuie daarvoor gebruik het.
Waar hy die sitplekke vandaan gekry het, kan hy nie meer onthou nie. Ook nie waar hy die dieseltenk van 45 liter gekry het nie. 'n Ou blikkie waarin tamatiepuree was, is ingespan as 'n prop vir die tenk. Die voertuig se dieselverbruik is goed en Smith kry 15 km tot 17 km per liter. Die voertuig kan tot 100 km per uur ry.
Hoewel die voertuig teen sowat 650 kg besonder lig is, kan dit 'n swaar vrag hanteer. Volgens Smit trek dit 'n sleepwa met 250 bale lusern met gemak. Hy sê die ruwe en bergagtige terrein op sy plaas is nou kinderspeletjies danksy die vierwielaandrywing.
Omdat hy die voertuig net vir plaaswerk gebruik en dit dus nie padwaardig hoef te wees nie, gebruik hy sommer ou bande wat ander boere weggooi. Hy kry ook nuwe bande wat afgekeur is goedkoop by plaaslike handelaars.
"Dit help nie jy koop nuwe bande nie omdat jy die heeltyd oor klippe ry."
Die modderskerms oor die wiele het hy van ou seil gemaak.
Wat die voertuig veral uitsonderlik maak, is dat dit nie 'n enjinkap het nie en ook nie geverf is nie.
"Ek het baie probleemdiere op my plaas en verloor maklik 15 lammers per seisoen. Die probleem met gewone bakkies is dat hulle snags blink en die probleemdiere afskrik. Om 'n seil oor 'n gewone bakkie te trek, versper 'n mens se uitsig te veel en maak die jag moeilik. Met my voertuig het ek nie 'n probleem nie. Dit smelt só goed met die omgewing saam dat ek al ná net een jakkalsroep (hy roep sommer self) gevind het dat die jakkalse letterlik tot 'n paar meter van die voertuig af kom en doodstil staan om dié vreemde gedoente te bekyk."
Hoewel Smit die voertuig vir alle plaaswerk gebruik en om lusern na ander boere in die omgewing aan te ry - hy ry ongeveer 360 km per week - kos instandhouding hom byna niks. Dit is beperk tot die vervanging van 'n pap band af en toe. Nog 'n voordeel is dat die voertuig nie 'n bakwerk het wat beskadig kan word nie.
"Ek is nie jammer daarvoor nie en ry eenvoudig waar ek wil."
Smit is besig om nog twee van die voertuie te bou - een vir sy dogter Sarita wat daarvan hou om skoolvakansies en naweke saam met hom te boer en 'n ander een vir sy werkers.
Hy het al agt soortgelyke voertuie vir ander boere gebou, maar kry deesdae nie meer tyd daarvoor nie.
"Dit kos in elk geval te veel om dit vir iemand anders te maak. Ek moet spesiaal skrootyster koop en die boer geld vra vir my arbeid. Dit is veel goedkoper as 'n boer dit vir homself maak."
Hy waarsku egter dat dit geen maklike taak is om só 'n voertuig te bou nie. Al hoef dit nie padwaardig te wees as dit net vir plaaswerk gebruik word nie, is dit steeds nie 'n geval van net vat en bou nie. Fyn beplanning is nodig. Omdat verskillende voertuie se onderdele gebruik word, pas niks nie en moet alles gemaak of verstel word om by die res in te pas. Dit neem ook heelwat tyd in beslag om die voertuig op te bou. Die beste raad is om dit stelselmatig te doen.
Navrae: Tel. 045 967 9152.
13 Mei 2005