Motplae lei tot ruspes wat die Karoobossies, die
vee se voedselbron, opvreet. Hierdie boer het
met 'n blink plan vorendag gekom om lig -
wat onweerstaanbaar vir motte is - te gebruik
om dié plaag te bestry.
'n Lamp se aantrekkingskrag is onweerstaanbaar
vir motte. Of dit
nou 'n stoeplig, 'n kampvuur
of jou motorligte is, waar daar
lig is, sal daar onvermydelik motte wees.
Wetenskaplikes skryf dit toe aan fototaksis,
oftewel 'n organisme se outomatiese
beweging nader aan of weg van lig.
Mnr. Joos Moelich, 'n skaapboer naby
Williston, is bekend daarvoor dat hy nie
sommer iets koop as hy dit self kan maak
nie. Op sy plaas De Ganna is reeds allerhande
vernuftige patente en uitvindsels
waarmee hy die lewe vir homself en sy
vrou, Magda, sommer aansienlik makliker
maak.
Van tyd tot tyd is daar motplae in die
Karoo en Moelich het begin kopkrap oor
maniere om dié probleem nekom te draai.
Getrou aan sy aard het hy in die huis en op
die werf begin rondkyk vir onderdele en
toerusting wat ingespan kon word.
Hy het 'n eenvoudige toestel met drie
gloeilampies ontwerp.
Die boonste gloeilampie trek die motte
aan, en die tweede en derde lampies lei
hulle tot in 'n tregter waar hulle gedwing
word om in so 'n nou spasie te "warrel"dat
hulle inmekaar vasvlieg en na benede stort
om in 'n groot, donker sak te land.
Hoe digter die motmassa wat na die tregter
getrek word, hoe doeltreffender werk
dit.
Tydens een van die motplae het hy sowat
4,5 kg motte in een nag gevang. Kort nadat
hy die motvanger begin gebruik het, was
dit vir hom interessant om te probeer vasstel
hoeveel motte in die sak beland. In 2004
het hulle 15 kg, oftewel 52 liter, motte op
een plek gevang. Hy meen dit was ongeveer
4 miljoen motte!
Die motte word in 'n voersak binne-in
'n donker sak, soos 'n plastiekvuilgoedsak,
gevang.
Moelich het 'n ou weermagsak ingespan
vir dié takie. "Jy kan egter enigiets
gebruik. Ek gebruik dié sak, want ek het
dit gehad," sê Moelich.
Sy enigste wenk is dat die sak donker
moet wees en geen lig deurlaat nie. As
daar lig deurskyn, sal die motte ook om
die sak koek en nie deur die lampies in die
tregter gelei word nie.
Deur die weermagsak met 'n streepsak
uit te voer, is dit maklik om van die motte
ontslae te raak en die buitesak word nie
vuil nie.
Die binnesak kan toegebind en aan die
brand gesteek word, of daar kan gif in gespuit word. Moelich sê gewone vlieëgif werk uitstekend.
Moelich gebruik energiebesparende gloeilampies van sowat
10 W. Die boonste lampie dien as "magneet" vir die motte. Hy
het al met blou gloeilampies geëksperimenteer, maar meen die
konvensionele neon-lampiewerk die beste - hoe geler die lig, hoe
doeltre.ender is die toestel, meen hy.
Ongeveer 500 mm onder die boonste lampie is nog 'n lampie.
Dié lampie moet die motte in die tregter lok. Moelich het die tregter
uit 'n ou koeldrankbottel gemaak.
Uit die tregter se tuit, en binne in die sak, hang nog 'n lampie.
Dit help, saam met die deurskynende tregter onder, dat die motte
in in die sak bly.
"As hy eers binne is, is dit verby. Daar is nie 'n manier dat die
mot weer kan uitgaan nie," sê Moelich.
Die hele toestel hang aan 'n raamwerk wat hoofsaaklik uit ou
oliedromme (swart geverf) en 'n driepootstaander uit afvalpypies
gemaak is.
"Nadat ek die toestel gemaak het, het ek omtrent elke uur opgestaan
om te kyk hoe dit werk. Dan het ek maar veranderings
gemaak waar dit nodig
was."
Benewens motte, het
Moelich ook al groot
sprinkane, skoenlappers
en vrugtemotte met dié
toestel gevang.
"Jy kan enigiets wat
na lig toe sal kom, hiermee
vang," vertel hy.
"Maar dit kan nie voëls
beseer nie."
Moelich reken ook
dié manier om motte
uit te roei sonder gif sal
ook suksesvol wees by
teeplantasies en in mielielande.
As jy 'n motvanger
êrens in die veld wil
staanmaak, het Moelich
al 'n klompie motvangers
vervaardig wat
deur sonkrag aangedryf word.
Dan voeg hy
'n sonpaneel en 'n 12 V battery by die toestel.
"Jy kan dit baie
goedkoop maak, want
die lampies trek baie
min krag. Jy hoef dit ook nie die hele jaar te gebruik nie,maar net
as daar 'n klomp motte uitbroei."
Die toestel sal nie verstop nie. 'n Mens kan die hele nag deur
motte daarmee vang. "Jy kan die motplaag net tot 'n mate probeer
bestry. Ek sal dit nie kan uitroei nie, maar sal die motte kan
verminder."
Die motte beskerm hulself ook deurdat daar baie weersituasies
en fases in hul ontwikkeling is wanneer hulle nie in massas
na die lig toe kom nie.
'n Ander toevoeging tot sy toestel het 'n klein windskermpie
van fyn gaas. Dit is met 'n draaipunt aan die motvanger gemonteer.
Die windstroom wat dit genereer, dryf letterlik die motte
na die lig toe, keer die wind weg en laat die motte dan in die
tregter val.
Sy motvanger by die huis is aan 'n dag/nag-skakelaar gekoppel
en gaan outomaties saans aan. Só kan hy en Magda rustig
braaivleis hou sonder om deur motta gepla te word.
Landbouweekblad, 18 April 2008