Die prys is duidelik nie te versmaai nie, mits die koper nie te veel moderne tegnologie verwag nie.
Die "inval" vanuit die Ooste duur voort. Nóg 'n Chinese trekker wat inderdaad goedkoop is, het in Suid-Afrika aangekom.
Die plaaslike maatskappy Indoplas van Krugersdorp wat die Indotrak invoer, het reeds 'n paar modelle op vanjaar se Nampo-Oesdag gewys. Dié maatskappy het nou ook met 'n viersilindermodel vorendag gekom waarmee hulle hoop om 'n gedeelte van die mark vir klein trekkers in te palm.
Mnr. Bill van der Mescht, eienaar van die maatskappy, en sy seun, Billy, die bemarkingsbestuurder, het die nuweling, die TS 440 LX, onlangs vir landboujoernaliste gedemonstreer.
Dit is beslis nie 'n groot trekker met baie fieterjasies nie, dus nie vir die mielieboer wat duisende hektare omdolwe nie. Vir die kleiner boer wat nie sakke vol geld het nie, is dit moontlik die beste manier om 'n nuwe trekker te kan aanskaf. Die TS 440 LX kos 'n skaflike R69 900 (BTW uitgesluit).
Daar is volgens hulle 'n gaping om te oorbrug, want in Suid-Afrika is daar groot trekkers wat baie geld kos én kleiner trekkers wat steeds nie goedkoop is nie. Die nismark waarvoor hulle mik, is vir 'n basiese trekker wat bekostigbaar is. " 'n Nuwe trekker vir die prys van 'n gebruikte klein trekker met 'n bekende handelsnaam," soos hulle dit stel.
Die eerste trekker wat hulle ingevoer het, was die TS 240 High Crop, 'n eensilindermodel wat teen R37 500 sekerlik binne menige kleinboer se bereik is. Daarna het die TS 240 Greenhouse met 'n prysetiket van R39 900 gevolg. Soos sy naam aandui, word dié trekker in China op baie plase aangetref wat groente in 'n tonnel verbou.
Hulle sê al drie modelle is lig op diesel, veral die eensilinderperdjie wat glo agt uur lank met net elf liter diesel kan woel en werskaf. Hulle het al vyftig van hierdie rakkertjies in Suid-Afrika verkoop.
Die Chinese maatskappye wat die Indotrak vervaardig, die Zhongtuo en die Lu Zhong Tractor Company, twee sustermaatskappye, is skynbaar baie gretig om hier besigheid te doen, want hulle was bereid om op versoek van die Van der Meschts verskeie veranderings aan die trekkers aan te bring.
Daar was dinge aan die oorspronklike modelle wat hulle gepla het en hulle het toe die veranderings voorgestel. Nou word die trekkers in die Chinese fabriek verander voordat dit op die skip Suid-Afrika toe gelaai word.
Die eienaars sê 'n voordeel van die trekkers is hul eenvoud. Dit is maklik om hulle te herstel as daar fout kom en onderdele is ook goedkoop en maklik verkrygbaar.
Hulle bied ook goeie naverkopediens en het al landwyd agente aangestel wat herstelwerk, versiening en onderdeleverkope doen.
Die volgende doelwit is om nóg groter modelle hierheen te bring en dus ook trekkers te voorsien aan die groter boere wat 'n basiese trekker wil hê wat nie 'n plaas se geld kos nie.
Landbouweekblad, 31 Augustus 2007