
Selfstuur-tegnologie is nou al vir ’n paar jaar beskikbaar en byna standaard op alle trekkers bo 200 kW. Verder word die gebruik van hoë akkurate RTK (of variante daarvan) al hoe meer algemeen, veral met die oprigting van basisstasienetwerke deur plaaslike agentskappe.
Prof. Karlheinz Köller van die Universiteit van Hohenheim meen ’n groter vlak van outomatisering in die werkprosesse met plantproduksie is die volgende stap. Dié prosesse sal meer presies, omgewingsvriendelik en kostedoeltreffend wees. Een so ’n ontwikkeling is die oordrag van inligting tussen voertuie op die land.
Hierdie ontwikkelinge is die gevolg van vernuwing op die gebiede van elektronika, sensor-tegnologie en sagteware. By stropers is selfstuurpakkette, elektroniese verstelling en selfs die outomatiese aanpassing van die werkspoed al geruime tyd opsioneel beskikbaar.
Koordlose verbindings
Die ontwikkeling van koordlose verbindings maak dit nou moontlik om inligting tussen stropers en trekkers oor te dra. Dit stel trekkerdrywers byvoorbeeld in staat om die posisie en graantenkvlakke van al die stropers op die land te sien en sy aflaaivolgorde daarvolgens te bepaal. En stroperdrywers kan ’n oorlaaiwa ontbied met ’n boodskap wat sy posisie aandui. Dis wanneer die oorlaaiwa naby die stroper kom, dat dinge begin interessant raak.
Die trekkerdrywer kry ’n boodskap dat die voertuig naby genoeg is en dat dit aan die stroper gekoppel kan word. Sodra die trekkerdrywer die opsie kies, neem die stroper se rekenaar beheer van die trekker oor en dan laat die trekkerdrywer al die kontroles los. Daarvandaan volg die trekker die stroper se presiese beweging op ’n voorafbepaalde posisie en vaste afstand om die aflaaipyp op presies dieselfde plek in die wa te hou. Hierdie stelsel verseker dat die stroper altyd teen volkapasiteit loop en dat die wa eenvormig gevul word. Sodra die stroper leeg is, neem die trekkerdrywer weer beheer oor.
Sowel Case IH as John Deere het verwante stelsels in Amerika bekend gestel. Hierdie stelsels staan onderskeidelik as die V2V (vehicle-to-vehicle) en Machine Sync-stelsel bekend. Volgens John Deere VSA is die stelsel reeds daar in die handel beskikbaar.
Sonder drywer
Kinze, ’n Amerikaanse oorlaaiwavervaardiger, werk sedert 2009 aan ’n stelsel waarmee die trekker hierdie prosedure sonder ’n drywer kan uitvoer. Die stroperdrywer koördineer die beweging van die trekker op die land en sodra die oorlaaiwa vol is, stel die stroperdrywer die trekker elektronies daarvan in kennis. Die trekker gaan dan na waar ’n vragmotor wag. Die vragmotordrywer moet die oorlaaiwerk self doen waarna hy die trekker in kennis stel dat dit leeg is en dit dan terugstuur na die land toe. Volgens Kinze is die stelsel verlede jaar by ’n paar boere getoets.
Die toekoms van landboutoerusting is onvermydelik elektronies, maar daarmee saam kom verskeie eise ten opsigte van opleiding, betroubaarheid en ondersteuning. Dit is onseker wanneer hierdie stelsels plaaslik beskikbaar sal wees. Boerdery gaan egter toenemend meer elektronies raak.
Mnr. Jan C. Greyling is ’n boer en navorser. Hy stel veral belang in akkerbou en die tegnologie wat daarmee gepaardgaan. Greyling is ook ’n Ph.D.-student aan die Universiteit Stellenbosch.