Wanneer 'n boer sy heining elektrifiseer vir die bestryding van ongediertes of vir die aanhou van wild, word die draad wat die elektrisiteit gelei met 'n hegstuk aan die bestaande heining vasgemaak. Die gewone hegstuk bestaan uit 'n staaldraad waaraan 'n tol-tipe isolator vas is. Die geleidingsdraad loop deur hierdie isolator.
Dié soort hegstuk het 'n aantal tekortkominge, soos dat die geleidingsdraad tydens die oprigting van die heining deur elke isolator getrek moet word. Dit is veral moeilik wanneer daar dikker draad of ou telefoonlyne gebruik word.
Nog 'n probleem is dat 'n mens die hele draad moet uittrek as 'n isolator beskadig word, byvoorbeeld, deur 'n brand.
Hierdie soort hegstuk maak dit vir 'n mens verder onmoontlik om bykomende hegstukke aan te bring sonder om die hele lyn oor te doen.
'n Gesukkel hiermee het mnr. Fransie Fourie, 'n boer van Jansenville, laat besluit om 'n plan te maak. Hy het sy eie hegstuk ontwerp.
Dié hegstuk bestaan uit 'n gebuigde draad wat anders as die standaarddraad lyk en 'n aanknip-isolator wat maklik in die handel te kry is. Die isolator word met 'n staalspei aan die gebuigde draad vasgeheg.
Met die oprigting van 'n heining word die isolator eenvoudig aan die geleidingsdraad geknip. Om 'n isolator te vervang, word die staalspei net uitgetrek, die beskadigde isolator afgehaal en die nuwe isolator aangesit. Bykomende hegstukke kan enige tyd bygesit word.
Fourie sê sy hegstuk maak dit baie vinniger om 'n heining op te rig. Dit is ook makliker om die heining in stand te hou.
Fourie, wat met Angorabokke, Boerbokke en wild boer, het op sy plaas reeds heinings van 40 km op dié manier geëlektrifiseer.
Hy het ook ál sowat 30 000 van dié hegstukke aan mede-boere verskaf.
23 Julie 2004