
Ry op ry staan hulle daar op rakke wat tot teen die dak strek: Helderkleurige skaalmodelle van trekkers, vragmotors en werktuie. Sommige kom uit Suid-Afrika, ander word ingevoer. Maar as dit ’n besondere stuk is en die prys is reg, dan kóóp mnr. Danie le Roux.
Le Roux (52) is die bestuurder van ’n graanplaas naby Malmesbury en sy versameling skaalmodelle trek al ver oor 1 000 stukke. Dit sluit in trekkers, vragmotors, stropers en werktuie. “Ek het oor die jare ook al so elf of twaalf self gebou.” Dié modelle staan in sy sitkamer.
Geen besonderheid is weggelaat nie en die modelle is haarfyn toegerus, kompleet met handelsmerke. Le Roux is ’n kenner op sy vakgebied en hy rammel feite af en diep stories op wat enige een se verbeelding sal aangryp. Hy leef sy passie ook uit by die veteraantrekker- en enjinklubs waarvan hy lid is.
“Dit gaan oor bewaring. Daar is so baie mense wat die trekkers uitgevoer het, en eintlik wou ons hê dit moes hier bly sodat ons by oes- en ploegdae kan demonstreer hoe dit in die ou tyd gedoen is.Ons kyk hoeveel ons in die hande kan kry en weer kan laat werk.”
Kyk hier na 'n video van Le Roux se unieke versameling en lees die volledige artikel oor sy versameling in die Landbouweekblad van 30 Maart 2012.