Mnr. Manie Bredell was in die 1940's 'n klein seuntjie toe sy pa, Hannes, elektrisiteit met 'n klein waterwieletjie opgewek het om die karbattery te laai wat destyds die radio laat speel en een lig in sy slaapkamer laat brand het.
Toe hy later self op die familieplaas, Weimershoek naby Lydenburg, gaan boer het, het hy besluit om self 'n plan te maak.
In die begin van die 1980's het hy begin met die projek wat sowat 'n jaar se beplanning, leer en probeer gekos het voordat die mini-hidro-elektriese aanleg aan die werk was.
Met geen opleiding nie, moes hy lank eksperimenteer om die pypdiktes en pomp aangepas te kry om die krag te kon opwek.
Dié eenheid bestaan uit 'n sentrifugale pomp wat agterstevoor gebruik word. Water word met 'n pyp van 125 mm in deursnee deur die pomp gelei. Die water loop in waar dit normaalweg uitgepomp sou word en loop uit waar dit sou inkom.
Dit laat die pomp en die bandkatrol aan die pomp se as draai. Die V-band dryf dan 'n alternator aan. Dit wek die krag op wat met 'n kabel na die huis sowat 100 meter verder gelei word.
Die stroomspanning is 220 volt en genoeg krag is beskikbaar om twee vrieskaste, 'n yskas, 'n wasmasjien, ligte vir die hele huis en die stofsuier aan te dryf. Dit is net die warmwatersilinder en stoof wat soveel krag benodig dat dit nie met die stelsel bedien kan word nie. Maar daarvoor is daar 'n lekker antrasietstoof in die kombuis.
Die beginsel was van die begin af 'n wenner. Dit was net nodig om die regte waterdruk te kry om die pomp só sterk te draai dat dit die alternator kan draai wat nodig was om genoeg krag op te wek.
Ná vele probeerslae was dit die pyp van 125 mm wat met 'n val van 18 meter oor 'n afstand van 10 meter die gewenste druk gelewer het, sê Bredell.
Omdat dié eenheid 24 uur per dag loop, is 'n batterystelsel nie nodig om krag op te berg nie. Die krag word sowat 100 meter ver met 'n kabel onder die grond na die huis gelei.
Die water kom uit fonteine in die berg bokant die opstal en daar is ook 'n kanaal uit die Dorpsrivier wat oor die plaas loop. Die fonteinwater is eintlik genoeg, maar die kanaalwater maak die stelsel standhoudend indien die fonteine in droogtetye minder water sou gee.
Net die energie word uit die water gehaal. Nadat dit deur die pomp geloop het, loop dit weer in 'n voor in en kan vir besproeiing of enige ander doel gebruik word.
Die alternator word sowat een keer in twee jaar afgehaal en na 'n onderneming gebring wat dit versien en nuwe busse en laers insit waar nodig. Soos wat die borsels gedaan raak, vervang hy dit self.
Die pomp word terselfdertyd versien. Om die stelsel in te sit, het destyds R900 gekos en die onderhoud is minimaal.
Bredell glo daar is talle plase teen die platorand waar genoeg water en 'n geskikte helling is vir soortgelyke stelsels. Een van die beperkende faktore is die afstand waaroor die krag gelei moet word aangesien heelwat krag in dié proses verlore gaan.
11 Maart 2005