Die gevolg was dat hy onderhoudvrye kleppe en doeltreffende waterkrippe begin maak het.
Watervoorsiening aan vee en volstruise in veldkampe is een van die belangrikste aspekte in enige boerdery. Veral in die droër dele van die land, soos die Karoo en Kalahari, is water die enkele belangrikste oorlewingsmiddel vir mens en dier.
Die meeste boere verskaf water in die kampe deur middel van krippe op strategiese plekke in die kampe. Die watertoevoer na waarskynlik die meeste krippe op die meeste plase word met balkleppe beheer.
Balkleppe met metaalonderdele word meestal gebruik. Talle boere het egter gevind dat die kleppe ná 'n jaar of twee probleme begin gee. Roes veroorsaak dikwels dat die bewegende dele stram raak en die water nie meer doeltreffend afsluit nie.
Mnr. Joseph Steyn en sy broer, mnr. Oosie Steyn, van Rietfontein, Prins Albert, boer met Merino- en Dorperskape. In die omgewing waar hulle boer, is die plase uitgestrek en die kampe groot. Baie kampe is ver van die opstal af. Dit beteken dat die instandhouding van krippe en ander suipings hoog op die voorranglys van 'n veeboer is.
'n Paar jaar gelede het hulle begin moeg raak om kort-kort die metaaldele van sommige van die balkleppe te vervang, asook omdat baie water só verlore gegaan het weens kleppe wat nie behoorlik funksioneer nie. Joseph het besluit daar moet 'n manier wees om die probleem uit te skakel en het sy papier en tekenbord nadergetrek. Sy doel was om 'n kleiner, betroubaarder klep te maak een wat in werklikheid onderhoudvry sal wees.
Vandag word die resultaat van sy vindingrykheid nie net op hul plaas gebruik nie ook ander boere het dit raakgesien. Dit is 'n balklep wat van gewone PVC-materiaal en vlekvrye staal gemaak is, en wat jare lank probleem- en onderhoudsvry kan funksioneer sonder enige korrosieprobleme.
Steyn sê die vaste dele van die klep is alles van PVC-materiaal gemaak, terwyl die sluitstuk van hoëdigtheid-poliëtileen gemaak word. Die membraan wat die watertoevoer seël, word van gewone trekker-binneband gemaak. Die komponente wat aan die meeste slytasie onderworpe is, is van vlekvrye staal.
Die resultaat is 'n onderhoudvrye balklep wat jaar ná jaar sonder haakplek werk. Van die eerstes wat Steyn gemaak het, funksioneer al bykans 17 jaar lank sonder probleme.
Die verskil tussen dié klep en die gewones op die mark is dat laasgenoemde hoofsaaklik van koper en yster gemaak is, wat albei aan korrosie onderhewig is.
Steyn koop ál die materiaal wat hy nodig het in groot maat, sny dit in die verlangde stukke en bou daarna die kleppe.
Omdat boere dikwels omtrent enigiets wat water kan hou, soos ou baddens, as krippe in die kampe gebruik, het die Steyns 'n paar jaar gelede ook begin om waterkrippe van beton te maak. Hul oogmerk was krippe hoofsaaklik vir klein kampies. Verskillende groottes is gemaak na gelang van of dit in skaap-, bees- of volstruiskampe gebruik word. Die kleinste is een meter lank en is ideaal vir volstruise, terwyl van die skaapkrippe tot 2,5 meter lank is.
Die voordeel van sulke relatief klein krippe is dat die water daarin altyd vars is, want as drie of vier skape gesuip het, is al die "ou" water met skoon water vervang - waarvan die invloei deur die balkleppe beheer word.
'n Groot voordeel van hul betonkrippe is dat hulle leeggemaak kan word deur 'n inskroefprop in die bodem uit te draai. Die meeste fabriekvervaardigde waterkrippe se uitlaatproppe word net ingedruk - wat beteken dat die prop soms loskom en die krip lek of heeltemal leegloop. Die balklep sal dan aanhou om water in te laat. Stel jou voor hoeveel water verlore is as die boer eers dae later daar opdaag.
Die kleiner waterkrippe se aflooppyp mond reg onder die toevoerpyp uit. Die voordeel daarvan is dat 'n krip só staangemaak kan word dat die toevoer- en uitlooppunte van die water aan die buitekant van die kamp is. Volstruise is geneig om gedurig nat grond te vreet en hierdie krippe voorkom die probleem van nat grond in die kamp.
Die krippe is toegerus met 'n spesiale betondeksel vir die deel waar die balklep aangebring is. Dit beskerm die plastiekbal teen sonverwering.
Nadat boere in die omgewing van die Steyns se waterkrippe en balkleppe gehoor het, het van hulle dit begin beproef. Die vraag het sedertdien só gegroei dat hulle dit so ver as De Rust, Oudtshoorn en Beaufort-Wes aan boere voorsien.
24 Junie 2005