Met dié aangepaste wingerdwaentjie met spore kan 72 druiwe-plukkissies binne 15 sekondes afgelaai word. Om dieselfde hoeveelheid kissies met die hand af te laai, kan tot 10 minute of selfs langer duur.
Wanneer kissies druiwe uit die boord na die koelstoor aangery en afgelaai word, moet elke vol kissie druiwe per hand van die waentjie afgelaai en die stoor ingedra word. Afgesien dat dit baie werk, tyd en arbeid verg, word die kissies dikwels per ongeluk of weens oorhaastigheid harder neergesit en die druiwe word beskadig, gekneus en ringnekbarsies ontstaan somtyds.
Dit het mnr. U.C. Uys, pakstoorbestuurder op Clovelly in die Hexvallei, ernstig laat wonder of daar nie iets aan dié saak gedoen kan word nie. Hy het sy "tekenbord" nadergetrek, en teen November verlede jaar was hy gereed om sy aangepaste wingerdwaentjie die lig te laat sien om dié sleurwerk te verminder.
Uys verduidelik hoe dit werk. Hy het 'n nuwe wingerdwaentjie laat bou en spore op die vloer laat aanbring waarin drie plat waentjies (trolley's) se wiele pas en binne in loop. Elkeen van hierdie plat waentjies het 24 plukkiste vol druiwe daarop.
"Wanneer die vrugtewaentjie by die koelstoor aankom, word die kantrelings van die wingerdwa afgeslaan en die waentjies op die spore, wat ook opslaan-"bruggies" het om oor die opening tussen die wa en die koelstoor se perron te "ry", uitgestoot op hul eie wiele". Dié waentjies kan ook op hul wiele in die voor-verkoelerkamer waar die druiwe voor verpakking verkoel word rondgestoot word soos benodig.
"Binne 15 sekondes kan 72 plukkiste op dié manier van 'n wingerdwaentjie afgelaai word," sê Uys. Die waentjies word op dieselfde wyse op die wingerdwa teruggestoot en só na die wingerd terugvervoer. Die spore waarin die plat waentjies se wiele op die groter wa loop, is van U-yster (channel iron) gemaak.
In die stadium is ál vier wingerdwaens op Clovelly in werking, en hy is van plan om alle waentjies in die toekoms daarmee toe te rus.
Benewens die voordeel dat baie tyd en arbeid daarmee gespaar word, word daar net een keer aan 'n plukkissie met die hand geraak, en dit gebeur wanneer dit in die wingerd op die wingerdwaentjie gelaai moet word.
Navrae: Mnr. U.C. Uys, sel 082 801 6963.
7 Mei 2004