Help-my-laai. Dit is wat mnr. Willem Herselman van die plaas Harmonie, in die distrik Aliwal-Noord, sy baallaaier noem. Hy het dit self ontwerp en gemaak teen sowat die helfte van die koste van fabrieksgeboude laaiers. Sy laaier verskil ook in vele opsigte van die ander.
Bale kan hoër as 5 m (8 tot 9 lae op 'n vragmotor of wa) gelaai word. Die hoogte wat die bale gelig moet word, word met 'n teleskopiese meganisme gestel. Dit is basies 'n pyp wat in 'n dikker pyp inskuif. Die verstelling word met die hand gedoen. 'n Hidrouliese silinder kan aangebring word. Daarmee kan die verstelling van die trekker af gedoen word.
Anders as gewone laaiers, loop hierdie een nie langs die wa of vragmotor nie. Omdat die laai-aksie deur die kragaftakker (en nie deur 'n wiel nie) aangedryf word, werk die laai-aksie selfs as die trekker stilhou.
Hy sê ander masjiene veroorsaak dikwels probleme wanneer die laaste baal in 'n akker gelaai word. Wanneer die trekker draai, word die baal eenkant toe geslinger. "Wanneer ek die laaste baal in 'n bedding of akker laai, wag ek eers totdat die baal klaar in die wa geval het voordat ek met die trekker draai. Ek kan dit doen omdat my laaier van die kragaftakker werk en nie van die laaier se wiel nie."
Die werktuig word gehaak aan 'n disselboom waarmee die wa getrek word. Geen spanning word dus op die laaier geplaas nie en die trekker, laaier en wa beweeg saam in een beweging.
'n Optelgeut met skuifaksie maak die optel van die bale maklik. Hy het aanvanklik met 'n vaste optelbek geëksperimenteer, maar dit laat vaar. Met die skuifaksie sak die bek tot net bo die grond om die baal op te tel. Onderaan is staalseksies vasgesweis waarop dit oor obstruksies, soos kontoerwalle, gly.
Flappe bo-aan die bek druk die baal vas en penne aan 'n ketting binne die bek "hap" die bale op en vervoer dit boontoe. Die penne keer ook dat die baal agteroor kantel wanneer dit op die vervoerband land en na boontoe moet beweeg.
Die flappe word afgehaal as die laaier gebruik word om bale uit die skuur of van die sleepwa na 'n ander voertuig oor te laai.
Die ketting met tande kom oorspronklik uit 'n vervoertoestel vir melkkanne.
Sedert hy drie jaar gelede vir die eerste keer met die laaier (van skrootyster) begin eksperimenteer het, het hy al vir heelwat boere laaiers gemaak.
Die koste van staal beteken dat die laaier nie meer heeltemal goedkoop is nie, maar dit kos steeds minder as die helfte van die prys van laaiers wat in die handel beskikbaar is. Hy bereken dat sy werktuig nie meer as R25 000 kos nie. Dit kan goedkoper gemaak word as hy die beweegbare bek en flappe weglaat.
Twee mense kan etlike vragte bale per dag met hierdie werktuig laai. Gewoonlik bestuur hy self die trekker en sy regterhand op die plaas, mnr. Boy Solani, pak die bale op die wa reg. "Ek het voorheen ses mense vir hierdie taak gebruik."
Liefde vir ysters bring geld in
Sy laekosteboerdery en gewilligheid om allerhande dinge vir 'n ekstra inkomste te doen, het hom al uit finansiële verknorsing gehelp, sê mnr. Willem Herselman. Hy boer die afgelope 27 jaar en het twee plase, Harmonie en Waterlands, in die distrik Aliwal-Noord.
Hy boer op sowat 1 000 ha met Merino's, Dorpers en Bonsmaras. Hy plant 30 ha lusern (SA Standaard en Diamant) en verkoop dit aan ander boere in die distrik. Vyf snysels per seisoen lewer gemiddeld 1 500 bale. Die lusern word nie bewei nie, omdat dit volgens hom "gras maak". SA Standaard kan nog effens bewei word, maar Diamant beslis nie.
Toe hy die plase destyds gekoop het, het hy seker gemaak dat albei plase baie water het. Harmonie is aan die voet van een van die hoogste berge in die omgewing, Kramberg, geleë en Waterlands 'n ent verder. Die bergwater voed 'n spruit wat deur albei plase loop en in 'n groot dam uitmond. Hy lei lande nat wat tot twee kilometer van die dam geleë is.
Van sy stokperdjies waarmee hy ekstra geld verdien en waarmee hy in net vier jaar sy een plaas afbetaal het, is sy liefde vir ysters. "As iemand ystergoed wil laat regmaak of opbou, doen ek dit. En ek het al vir ander boere skape gaan dip vir ekstra geld."
Hy herbou selfs John Deere-trekkers. Hy koop sy "ysters" goedkoop op veilings en maak dit reg of gebruik dit om iets anders te vervaardig. Net onlangs het hy 'n boortoestel wat R5 000 werd is vir R380 gekoop by 'n boer wat geglo het dit kan nie werk nie. Herselman het dit maklik reggemaak en gebruik dit volstoom.
Hy het ook al vir boere pilmakers, uieplanters en lusernsaaimasjiene gemaak. Sy jongste patent is 'n spesiale saaimasjien wat hy sy help-my-saai noem. 'n Ketting binne die saadkas hou die saad los en laat dit maklik vloei. Die saaimasjien is verstelbaar om verskillende groottes saad te saai. "Jy kan nie 'n laaier hê en nie 'n saaier nie, toe maak ek maar een", sê Herselman.
3 September 2004