Die verkope van landbouwerktuie en -toerusting is steeds hoog, maar boere kyk nou versigtiger na hul toekoms in die korttermyn, wat verkope vir die vierde kwartaal kan beïnvloed.
Trekkerverkope van 505 eenhede vir Augustus is een eenheid meer as die 504 eenhede wat verlede Augustus verkoop is. Verkope vir die jaar tot dusver is egter steeds byna 45% hoër as vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
Stroperverkope bly sterk teen 'n vlak wat meer as twee keer hoër is as die vlak vir dieselfde tydperk verlede jaar. Balerverkope is op die oomblik effens stil, maar na die goeie verkope vroeër vanjaar is dit steeds 36% hoër vir die jaar tot dusver.
Soos dit vroeër vanjaar voorspel is, kyk boere nou versigtiger na die korttermyntoekoms. Hulle moet die koste van finansiering, hoër insetkoste en oespryse oorweeg voordat hulle besluite neem oor die aanplant van somergewasse.
Die weer speel 'n deurslaggewende faktor bo en behalwe dié faktore en dit sal waarskynlik verkope van landboumasjinerie bepaal vir die vierde kwartaal van 2008. Gegewe 'n gewone begin vir die somerreënvalseisoen, behoort die vraag na landboumasjinerie goed te bly.
Verkope sal egter waarskynlik nie volgehou word teen die hoër as gemiddelde vlakke wat verlede jaar behaal is nie.
4 September 2008