Lusern goedkoop gekneus
Deur CHARL VAN ROOYEN
Lusern is een van die beste veevoere wat daar is en baie boere verdien 'n uitstekende inkomste daarmee. Sodra lusern egter reën kry, daal die gehalte dramaties en is dit dikwels nie meer geskik vir dierevoeding nie.
Die Vaalharts-besproeiingskema tussen Kimberley en Vryburg is bekend vir sy uitstekende lusern, maar ook vir die gereelde somerreën gedurende goeie jare, wat uiteraard welkom is, maar ook baie skade aan die hooi aanrig terwyl dit nog op die land lê om droog te word.
Daarom koop baie boere 'n kombinasiewerktuig wat die lusern afsny en dit terselfdertyd kneus om die vog makliker te laat ontsnap. Dit verhaas die droogproses en die boer kan die hooi gouer baal. Sulke werktuie kos egter heelwat geld.
Mnr. Dries Duvenhage boer sedert 1996 naby Hartswater. Lusernverbouing vorm 'n belangrike deel van sy boerdery, wat ook grondbone, mielies, koring, gars, druiwe en pekanneute insluit.
Hoe gouer dit droog is
"Soos enige lusernboer weet, word lusern baie gouer droog as dit tydens die snyery gekneus word. Hoe gouer dit droog is, hoe gouer kan dit gebaal en van die land af verwyder word. Dit verminder die risiko van reënskade op die land, wat 'n hoër gehalte en 'n beter prys waarborg," sê hy. As hy dit selfs net 'n dag vroeër van die land af kan haal, kan die lusern dalk 'n reënbui vryspring en dit kan die verskil tussen eerste- en derdegraadse lusern beteken.
Duvenhage het dit oorweeg om 'n snyer/kneusermasjien aan te skaf, maar die aansienlike koste van die beskikbare modelle het hom afgeskrik en na 'n ander oplossing laat soek. Hy het 'n ou sleepmodel kneuser vir R6 000 by 'n afgetrede buurman gekoop en dit vir 'n seisoen of twee met welslae saam met sy konvensionele tolsnymasjiene gebruik. Dit het egter uiteraard meegebring dat die koste van 'n ekstra trekker en bestuurder by die produksiekoste van die lusern gevoeg moes word.
Om koste verder te bespaar, het hy dit oorweeg om een van sy snymasjiene met die kneuser te kombineer. Dit was egter duidelik dat die kneuser nie direk agter die draaiende snylemme kon loop nie, omdat dit nie moontlik was om die kneuser aan te dryf en aan te haak nie.
Al oplossing was om die kneuser agter die trekker te laat loop sodat dit die ry lusern kneus wat met die vorige rondte gesny is. Om dit te kon doen, moes hy egter 'n paar veranderinge aan die snymasjien aanbring. Hy het die twee werktuie na 'n plaaslike ingenieursaak geneem, wat die werk betreklik maklik en goedkoop gedoen het.
Eerstens is die bestaande dryfas van die snymasjien, wat deur die trekker se kragaftakker aangedryf word, deur die dryfpoelie verleng om die kneuser aan te dryf. Hierna is 'n aanhaakmeganisme aan die snymasjien gesweis, wat sywaarts en na bo en onder kan skarnier. Dit stel die kneuser in staat om in lyn agter die trekker te loop.
Trekkerbestuurders moet rekening hou
Die vraag was hoe die kombinasiewerktuig in die land sou hanteer. Die trekkerbestuurders moet daarmee rekening hou dat hulle met twee masjiene werk en dat dit veral om draaie belangrik is om noukeurig te werk te gaan. Dit was egter nie 'n groot probleem nie en hulle het dit gou baasgeraak.
Die kombinasiemasjien het so goed gewerk dat Duvenhage sy ander snymasjien ook so laat verander het.
Hy sny gewoonlik 'n land van 12 ha op een slag. Die snyery begin al vroeg soggens en sodra die lusern verlep, gewoonlik so teen elfuur of twaalfuur gedurende die dag, word dit in windrye gehark. As die weer dit toelaat, probeer hy nog dieselfde aand die windrye toehark om die uitwerking van dou op die lusern in die rye te verminder. Soms is dit nodig om die lusern weer met die hark om te keer voordat dit reg is om gebaal te word. Die tydperk van die snyery tot baaltyd is in die meeste gevalle nie langer as drie dae nie.
Sy kosteberaming (sien tabel) toon dat die aangepaste werktuig baie gunstig met die beskikbare snyer/kneusermodelle vergelyk en die kneusproses geskied nou teen 'n baie laer koste.
Landbouweekblad, 20 Junie 2008