Twee kanonspuite, 'n grote wat maklik tussen torings verwissel en 'n kleiner model wat met toring en ál verskuif kan word, kan op verskeie maniere groot besparings vir 'n boer beteken. Daarby is dit doeltreffender as besproeiing met gewone besproeiingspype en sproeiers.
Mnr. Gaaf Ackerman van Reddersburg sê met sy spuite kan hy binne twee dae (en deur die sproeiers net twee keer te verskuif) 'n land besproei wat met gewone sproeiers 'n week verg om nat te kry.
Hy het twee modelle gebou: Een wat 120 m wyd spuit teen 25 000 l/uur en 'n kleiner een wat 60 m wyd spuit teen 12 000 l/uur.
Die grote dek 'n volle sirkel teen 15 mm/uur en 'n halfsirkel teen 35 mm/uur. Daarteenoor is die volume wat die kleiner model lewer, 10 mm/uur vir die volle sirkel en 20 mm/uur vir 'n halfsirkel.
Die sproeierkoppe word uit Israel ingevoer waar dit grootliks vir die besproeiing van groente gebruik word. Vir die groot toring word die sproeierkop voorsien van 'n passtuk waarmee dit bo-op die pyp met 'n gewone besproeiingskoppeling vasgesit word. Dit word baie maklik ontkoppel en na 'n ander toring verskuif. Die kleiner sproeier word maklik met toring en ál verskuif.
Die torings is van gewone gegalvaniseerde staal en hoog genoeg sodat dit vir enige gewas geskik is.
Die groter toring word maklik verskuif nadat 'n boutjie aan elke been losgemaak en die bene toegevou is.
Mnr. Ackerman bou die torings met spuite op aanvraag.
Hy sê met die spuite word geld, besproeiingstyd, arbeid, krag en water bespaar. Een mens kan die spuit hanteer. Geen verdigting van die grond kom meer voor nie, slytasie is min, gesaaides word nie beskadig nie en geen risiko bestaan in die winter nie.
Stewige anker
'n Anker vir hoekpale wat nooit skeeftrek nie en veilig is vir diere sonder dat gate gegrawe hoef te word en sementwerk nodig is, is nog een van mnr. Ackerman se patente.
Die drie hoekpale word 2 m uit mekaar geplant, 'n ysterpaal word so diep moontlik teen 'n hoek van 10 grade langs die middelste paal ingeslaan en die ander twee dan daaraan geanker met bloudraad van die kop van die buitenste pale na die ysterpale in die grond. Die ysterpale word met bloudraad aan die hoekpaal vasgemaak.
Lesers kan mnr. Ackerman by 073 246 4041 bel.
30 Mei 2003