
Mnr. Callie Human, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (Salma), sê die jaar-op-jaar-verkope van nuwe trekkers toon dat 7% meer eenhede in 2012 verkoop as in 2011. Die verkope van nuwe trekkers in Desember 2012 het egter met 31,6% gedaal teenoor die verkope in Desember 2011.
Die 11 nuwe stropers wat in Desember eienaars gekry het, is aan die ander kant weer aansienlik meer as die vier nuwe eenhede wat in Desember 2011 verkoop is. Die totale stroperverkope van 434 nuwe eenhede vir 2012 is byna 32% meer as die verkope in die vorige kalenderjaar.
Volgens Human bly die mark vir landboumasjinerie baie lewendig met die fundamentele aspekte wat steeds goed lyk ondanks die laer trekkerverkope vir Desember 2012. Die afgelope twee jaar, 2011 en 2012, is gekenmerk deur trekker- en stroperverkope wat aansienlik meer was as die gemiddelde.
Opvolgreën in die volgende paar weke is noodsaaklik om te verseker dat die belowende somergewasse die volle potensiaal bereik. Kommoditeitspryse bly goed en die huidige graanpryse sal waarskynlik gehandhaaf word danksy die betreklik lae plaaslike en internasionale graanvoorraadvlakke.
Boere is tans versigtig-optimisties en is afhanklik van weerstoestande in die volgende paar weke, het Human gesê.