
Die 22ste uitgawe van die Meganisasiegids deur die landbou-ingenieur mnr. Koos le Roux is pas beskikbaar gestel. Dié handleiding sal van groot waarde vir saaiboere wees met die beplanning van bewerkings.
Die gids is so saamgestel dat verskillende trekker-werktuig-kombinasies se koste afsonderlik en gesamentlik van die tabelle gelees kan word in rand per uur of rand per hektaar.
Vir elke trekker-werktuig-kombinasie word die brandstofverbruik in liter per uur of liter per hektaar aangetoon. In ’n volgende tabel word die brandstofverbruik in rand per uur of rand per hektaar aangedui. Die werktempo van die trekker-werktuig-kombinasie word ook aangedui in hektaar per dag, ton per dag of kilometer per dag.
Voorbeelde van hoe om ’n meganisasiebeplanning aan te pak en ook om ’n kostevergelyking op te stel, word ingesluit. Die boek is ’n nuttige hulpmiddel vir die boer om die koste van meganisasie te bereken.
Daar is ook nou ’n nuwe bladsy ingevoeg waar die koste van plaasbakkies gekry kan word. Boere is steeds die grootste groep gebruikers van die Meganisasiegids.
Ander mense wat die gids gebruik, is landbou-ekonome wat konsultasiewerk doen en wat werksaam is by verskeie staatsdepartemente, agri-besighede en handelsbanke, asook verkoopslui by verskeie trekker- en werktuighandelaars. Die gids is ook aangekoop deur die Universiteit van Pretoria en die Tshwane Universiteit van Tegnologie.
In ’n hofsaak vroeg vanjaar is die skadevergoeding wat die hof aan ’n boer toegestaan het volgens die inligting in die gids bereken. Die gids van 166 bladsye kos R185. Bel mnr. Koos le Rouz by 082 828 9531.
Kompetisie: `n Gelukkige leser kan die Meganisasiegids 2011 wen. Antwoord slegs die volgende vraag: Vir die hoeveelste jaar is die Meganisasiegids vanjaar beskikbaar? Stuur jou antwoord na cornelia.vdmerwe@landbou.com.
Die kompetisie sluit op 3 Junie en die wenner sal op 6 Junie aangekondig word.
20 Mei 2011