
Mnr. Callie Human, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (Salma), sê die 684 trekkers wat verkoop is, is 13,4% laer as die 790 eenhede wat verlede Januarie (2012) van die hand gesit is. Die 27 nuwe stropers wat verkoop is, is meer as dubbel die 13 eenhede wat verlede Januarie nuwe base gekry het.
Ongeag die laer trekkerverkope in Januarie bly die mark vir landboumasjinerie lewendig terwyl die fundamentele aspekte in die mark goed lyk. Weerstoestande in die oostelike dele van die land is gunstig en somergewasse in die meeste van daardie dele lyk goed.
In die westelike dele van die land is daar steeds sekere gebiede wat reën nodig het om die volle potensiaal van die oes te realiseer.
Ten spyte van die onlangse verswakking in die mielieprys, bly die fundamentele aspekte in die mark goed. “Die heersende gevoel in die mark is versigtige optimisme. Sekere boere gaan trekkers koop voor die onvermydelike prysverhogings ná die onlangse waardevermindering van die rand.
Volgens huidige ramings op die mark sal trekkerverkope vir die 2013-kalenderjaar sowat 7 000 eenhede (trekkers) wees wat ongeveer 10% laer is as verkope verlede jaar,” het Human gesê.