
Een van die gevolge van die wêreldwye ekonomiese krisis is ’n afname in Nissan SA se voertuiguitvoer na Afrika suid van die Sahara. Dít is die dryfveer agter die maatskappy se nuwe uitgebreide uitvoerprogram na dié gebied.
“Ons voorspel ’n afname van 20 % in jaarlikse verkope in Afrika suid van die Sahara vir vanjaar,” sê mnr. Jimmy Dando, hoofbestuurder van Nissan Afrika se streekkantoor vir dié omgewing. Hy sê die afname kan grootliks toegeskryf word aan groot kliënte, soos regerings en nie-regeringsorganisasies, wat nie in dié stram ekonomiese tye krediet kan kry nie.
“Hoewel ons nie Nissan Japan se wye reeks voertuie aanbied nie, beoog ons om die Hardbody se gewildheid tot ons voordeel te gebruik en meer van dié voertuie in Suid-Afrika te vervaardig.” Die Hardbody is die grootste dryfveer vir verkope suid van die Sahara en word as ’n uiters duursame produk bestempel.
Nissan se wêreldwye sakeplan mik daarna om 13 nuwe modelle oor die volgende vyf jaar op die Afrika-mark bekend te stel.
Bron:
17 Julie 2009