
Nog streekwenners is aangewys in die aanloop tot die eindronde van die nasionale ploegkompetisie wat binnekort by die Nampo-oesdag gehou word.
Mnr. Manuel Varela van die plaas Zandrivierpoort, Polokwane, was die wenner van die senior afdeling in die jongste streekkompetisie by die Hoërskool Bekker, Magaliesburg, waar hy ses ander deelnemers uitgestof het. Mnr. Robert Venema van Rosaly Boerdery, Tarlton, wat verlede jaar tweede op die nasionale byeenkoms was, was ook hier tweede en dring saam met Varela deur na vanjaar se eindronde van 13-16 Mei op die Nampo-oesdag, Bothaville. Mnr. Hannes Ferreira van Hillside, Magaliesburg, was derde.
Sewentien juniors was in aksie. Janco Joubert van Bekker het gewen en sal aan die junior afdeling op Nampo deelneem. Ockert Swanepoel was tweede en Egberts Roux derde, albei ook van Bekker.
Landbouweekblad is ? vennoot van die Suid-Afrikaanse Ploegorganisasie (SAPO) wat die kompetisie in samewerking met Graan Suid-Afrika, Tubestone en BKT-trekkerbande aanbied. 'n Aantal streekkompetisies word gehou waar deelnemers vir die eindronde (13-16 Mei op Nampo) kan kwalifiseer.
Mev. Susan du Toit van SAPO sê die volgende streekbyeenkoms is van 1-3 Mei by die Windpompfees, Mookgophong. Die Suid-Afrikaanse kampioen sal aan die wêreldkampioenskappe van 2015 deelneem. Die eerste wenner verlede jaar was mnr. Willie Ludik van Middelpos, Rouxville.