'n Hoeksweislas word gebruik om twee stukke metaal te las wat 'n hoek vorm. Hiervoor kan dus 'n T-las, 'n oorslagsweislas of 'n hoeklas gebruik word.
Hoeksweislasse verg nie moeisame kantvoorbereiding soos in die geval van stuiksweislasse nie, omdat die sweislas nie noodwendig die volle dikte van albei plate hoef in te dring nie. Dit bly egter belangrik dat die kante van die plate wat gelas moet word, skoon, nommerpas en haaks moet wees. Dit is ook raadsaam om die skerp randjies te verwyder as gesnyde plate gebruik word.
Wat T-lasse (figuur 1 a) betref, mag 'n hoeksweislas aan een of albei kante aangebring word na gelang van die vereistes. Die sweismetaal moet die hoek indring wat deur die twee plate gevorm word. Waar dit moontlik is, moet die werkstuk só geplaas word dat dit 'n natuurlike V-vorm (figuur 1 b) omdat dit die maklikste en vinnigste manier is om 'n hoeksweislas te maak.
In die geval van oorslagsweislasse mag die hoeksweislas aan een of albei kante aangebring word ooreenkomstig met die toeganklikheid daarvan en die lasvereistes. Oorslagsweislasse behoort vermy te word waar slegs een sweislas moontlik is en moet nooit gebruik word in opgaartenks of op plekke waar korrosie tussen die oorvleuelende plate kan voorkom nie. By oorslagsweislasse moet die lengte van die oorvleuelde gedeelte nie minder wees as vyf maal die dikte van die dunste plaat nie. Waar dit noodsaaklik is om die kontoer te behou, moet die plaat gebuig word soos aangedui in figuur 1 d.
Vir 'n hoeklas word die plate gepas soos in figuur 1 e en 'n sweislas word in die gevormde V neergeslaan. Die plate moet in hul totale dikte saamgesmelt word. In die praktyk mag 'n effense gaping of oorslag nodig wees. 'n Gaping van 0,8 mm tot 2,4 mm sal indringing bevorder, maar waarskynlik die opstelling van die plate moeiliker maak. 'n Oorslaglas vergemaklik die opstelling, maar beperk weer volle indringing en moet dus so klein moontlik (0,8 mm tot 2,4 mm) gehou word.
Mnr. Nick Bothma, Afrox se bemarkingsbestuurder vir boogsweistoerusting, sê die volgende terme en begrippe sal lesers help om die boogsweisteorie onder die knie te kry: Figuur 2 a wys byvoorbeeld die smeltvlak en die beenlengte van 'n hoeksweislas. Die keeldikte weer, word gemeet vanaf die wortel tot die voorvlak van 'n sweislas langs 'n lyn wat die hoek tussen die plate halveer.
'n Doeltreffende keeldikte word gebruik om die sterkte van 'n hoeksweislas te bereken en dit word gegrond op 'n verstekfilet (figuur 2 b) waarvan die keeldikte gelyk is aan 70 % van die beenlengte. (Voorbeeld: In die geval van 'n 25 mm-hoeksweislas is die doeltreffende keeldikte 17,5 mm.)
'n Bolhoeksweislas (figuur 2 c) is niks anders nie as 'n hoeksweislas waarvan die sweismetaalkontoer bokant 'n reguit lyn `uitsteek' wat die sweislasvoete verbind. 'n Bolhoeksweislas met 'n gespesifiseerde beenlengte se keeldikte is groter as wat nodig is.
'n Holhoeksweislas (figuur 2 d) se sweismetaalkontoer val weer onder die reguit lyn wat die twee sweislasvoete verbind. 'n Holhoeksweislas van 'n gespesifiseerde beenlengte se keeldikte is te min vir 'n hoeksweislas van daardie grootte. Dus, wanneer 'n holhoeksweislas gebruik word, moet die beenlengte langer wees as wat gespesifiseer is.
Die grootte van 'n hoeksweislas word beïnvloed deur die elektrodegrootte, die lengte van die sweislopie, die sweisspoed, die sweisstroom en die elektrodehoek.
Die sweisspoed en die sweisstroom het 'n belangrike uitwerking op die grootte en vorm van 'n hoeksweislas en op die neiging tot insnyding. Wanneer die sweisspoed te stadig is, sal die gesmelte metaal agter die boog ophoop om uiteindelik inmekaar te stort. 'n Té vinnige sweisspoed sal weer 'n smal en onreëlmatige sweislopie met swak indringing lewer. Waar dikker elektrodes en die hoër sweisstroomwaardes gebruik word, sal insnyding waarskynlik voorkom. 'n Té lae sweisstroom het gewoonlik 'n smal sweislopie met swak indringing by die wortel tot gevolg.
Mnr. Bothma sê die eerste sweislopie in die hoek van 'n las vereis 'n stroomwaarde wat hoog genoeg is om die maksimum indringing in die wortel te bewerkstellig. 'n Kort booglengte word aanbeveel vir hoeksweising.
'n Filet van 8 mm is die grootste hoeksweislas wat in een lopie met 'n dik elektrode aangedurf behoort te word. Pogings tot groter beenlengtes loop gewoonlik uit op instorting van die sweismetaal teen die vertikale plaat asook tot ernstige insnyding. Vir groot beenlengtes moet 'n meerlopiesweislastegniek toegepas word soos wat in figuur 3 aangedui word. Die elektrodehoeke vir die verskillende lopies in 'n hoeksweislas word ook in dié figuur aangedui.
In meerlopiehoeksweislasse word elke lopie ewe lank gemaak (tabel 1). Elke lopie word gemaak in dieselfde rigting en moet dieselfde beenlengte hê. Die kontoer van die voltooide hoeksweislas is effens konveks en sonder holtes in die sweisvlak.
Vertikale sweislasse kan in 'n opwaartse of afwaartse rigting gedoen word en die onderskeie eienskappe is die volgende:
- Opwaartse sweistegniek die sweisstroom is laag; indringing is goed; die sweisvlak is effens konveks en onreëlmatig; en vir meerlopiehoeksweislasse kan enkele lopies met die swaaitegniek gedoen word.
- Afwaartse sweistegniek die sweisstroom is gemiddeld; indringing is swak; elke lopie is klein, konkaaf én glad.
Die afwaartse metode moet slegs vir dun plate gebruik word met elektrodes wat nie dikker as 4,0 mm is nie.
Die opwaartse sweistegniek word aanbeveel wanneer plate dikker as 10,0 mm in die vertikale posisie gesweis moet word. Hierdie metode word gebruik as gevolg van die goeie indringing en die kwaliteit van die sweismetaal. Die eerste lopie van 'n vertikale opwaartse hoeksweislas behoort 'n seëllopie te wees met 'n 3,2 mm of 4,0 mm elektrode. Die verdere lopies mag uit menige enkellopies of 'n paar lopies met die swaaitegniek bestaan. Vir hierdie vertikale sweistegnieke is die korrekte keuse van elektrodes belangrik.
Volgens mnr. Bothma word rutielelektrodes gebruik wat 'n vloeibare slak vorm wat geredelik vloei agter die elektrode om 'n gladde en doeltreffende sweislas te vorm. Vitemax-elektrodes word vir die sweis van staal aanbeveel.
Vir bohandse hoeksweislasse moet die sweistegniek aandag kry om goeie sweislasse te verseker. Vir die beste resultate is 'n gemiddelde sweisstroomwaarde nodig: 'n Hoë sweisstroomwaarde veroorsaak insnyding en 'n slegte sweislasvorm, terwyl 'n te lae sweisstroomwaarde slak-insluitsels tot gevolg het.
'n Kort booglengte is noodsaaklik om sweislasse met goeie indringing en vorm te lewer. Die beste elektrodehoeke vir die verskillende lopies vir bohandse hoeksweislasse word in figuur 4 uitgebeeld. Vitemax-elektrodes word ook vir alle bohandse hoeksweiswerk aanbeveel, sê mnr. Bothma.
5 Desember 2003