
Die 23ste uitgawe van die Meganisasiegids deur die landbou-ingenieur mnr. Koos le Roux is onlangs beskikbaar gestel. Dié handleiding sal van groot waarde vir saaiboere wees met die beplanning van bewerkings.
Die gids is so saamgestel dat verskillende trekker-werktuig-kombinasies se koste afsonderlik en gesamentlik van die tabelle gelees kan word in rand per uur of rand per hektaar.
Vir elke trekker-werktuig-kombinasie word die brandstofverbruik in liter per uur of liter per hektaar aangetoon. In ’n volgende tabel word die brandstofverbruik in rand per uur of rand per hektaar aangedui. Die werktempo van die trekker-werktuig-kombinasie word ook aangedui in hektaar per dag, ton per dag of kilometer per dag.
Voorbeelde van hoe om ’n meganisasiebeplanning aan te pak en ook om ’n kostevergelyking op te stel, word ingesluit. Die boek is ’n nuttige hulpmiddel vir die boer om die koste van meganisasie te bereken.
Ander mense wat die gids gebruik, is landbou-ekonome wat konsultasiewerk doen en wat werksaam is by verskeie staatsdepartemente, agri-besighede en handelsbanke, asook verkoopslui by verskeie trekker- en werktuighandelaars.
Die gids kos R220. Bestel dit by mnr. Koos le Roux by 082 828 9531.