
Die OVK-groep het sy meganisasiediens uitgebrei en is nou ook 'n handelaar vir Massey Ferguson, Challenger en Sunflower-meganisasietoerusting nadat 'n ooreenkoms in dié verband met Barloworld Agriculture gesluit is.
Die handelaarskap sal hoofsaaklik in dele van die Vrystaat en Oos-Kaap gesetel wees om verkope en naverkopediens te lewer. Die uitbreiding hou onder meer ’n ekonomiese inspuiting vir die plaaslike gemeenskappe in met die skep van werkgeleenthede.
“Die OVK-groep kan hiervolgens ’n beter diens aan ons kliënte lewer met produkte wat waarde toevoeg,” sê mnr. Johan Scholtz, meganisasiebestuurder.
Die handelaarsaanstelling volg nadat Barloworld Agriculture verlede jaar aangekondig het dat die maatskappy op sy sterk groei van die afgelope dekade wil voortbou deur sy betrokkenheid by die landbou uit te brei. “Barloworld het sedertdien sy produkreeks vergroot en is besig om hom te posisioneer as 'n suksesfaktor in vooruitstrewende boerdery-ondernemings,” sê Scholtz. “Die strategiese vennootskap met die OVK-groep maak deel hiervan uit.”