
Same Deutz-Fahr-trekkers en Deutz-Fahr selfaangedrewe stropers word nou net deur Eqstra Industrial Equipment in die Sub-Sahara-streek in Afrika versprei.
Van die begin van Julie af word Same Deutz-Fahr-trekkers en Deutz-Fahr selfaangedrewe stropers net deur Eqstra Industrial Equipment in die Sub-Sahara-streek in Afrika versprei, volgens mnr. Gary Neubert, uitvoerende hoof van Eqstra Industrial Equipment.
Mnr. Chris Höll, besturende direkteur van GMG Power (die vorige verspreider van die Same Deutz-Fahr-reeks) is aangestel as die besturende direkteur van Eqstra se landbou-afdeling. Die afdeling sal as Same Deutz-Fahr handel dryf. Die Same Deutz-Fahr-handelaarnetwerk sal steeds die trekkers versprei en sal ook volgende jaar by die Nampo-oesfees wees. 'n Nuwe reeks van balers, planters en ploeë sal in 'n later stadium volg.
Eqstra Industrial Equipment is ’n filiaal van Eqstra Holdings, ’n maatskappy met belange in bruikhuur, nywerheid, konstruksie en as 'n invoerder van mynboutoerusting. Volgens Neubert is Eqstra Industrial Equipment reeds 25 jaar gelede as 'n verspreider en diensorganisasie gestig. Dit het ook die grootste infrastruktuur van sy soort in Suid-Afrika.
“Ons beplan om ons netwerk teen Junie 2010 tot 50 handelaarskappe uit te brei,” het Neubert gesê.
18 Julie 2009