Nuwe landbouwerktuie met van die gevorderdste tegnologie beskikbaar, is pas in Suid-Afrika bekend gestel. Daar is twee nuwe groot trekkers, drie nuwe stropers en drie mediumgroot trekkers wat ook as wingerd- en boordmodelle beskikbaar is.
Die gebruik van verstommende nuwe tegnologie in elke nuwe reeks landbouwerktuie hou nooit op nie. Alles is op beter werkverrigting toegespits wat dit makliker maak vir die operateur om doeltreffender te werk.
John Deere het pas verskeie nuwe werktuie in Suid-Afrika bekend gestel. Die leuse vir elke produkreeks spreek boekdele. Soos "Intelligente krag met oneindige veelsydigheid" in geval van die 7020-reeks.
Die drie stropers in die 60-reeks onder die vaandel van "Die krag van keuse" word beskryf as "vinniger as 'n vlietende koeël, kragtiger as 'n lokomotief en in staat daartoe om jou verwagtinge in een stroopseisoen te oortref".
"'n Maklike keuse," is die slagspreuk vir die mediumgrootte 5015-reeks trekkers waarvan drie modelle bekend gestel is. Die trekkermodelle vir die vrugte-, wingerd-, groente-, klein- en veeboer het van die beste tegnologie en voldoen aan die strengste vereistes vir die beperking van lugbesoedeling.
En ál die nuwe modelle, wat reeds met bewese betroubaarheid spog, word gerugsteun deur 'n handelaars- en diensnetwerk wat daarop ingestel is om die boer die volle voordeel van die gevorderde tegnologie te bied.
In die 7020-reeks is twee modelle, die 7820 en 7920 van onderskeidelik 136 kW en 147 kW bekend gestel. Daar is talle nuwe kenmerke, maar van die ouer kenmerke, soos betroubaarheid, duursaamheid en gemak van werking, is behou.
Boere se voorkeur is in ag geneem toe die trekkers ontwikkel is.
In albei die enjins, die 8,1 liter en 6,8 liter wat in die 7920 en 7820 gebruik word, word hoëdruk-tegnologie gebruik vir akkurate brandstofinspuiting, doeltreffender brandstofverbruik en skoner verbranding wat volgens die vervaardiger meer wringkrag en drywing gee as ander enjins van dieselfde grootte.
Die hoëdruk-tegnologie sorg verder dat die enjin baie drywing en wringkrag lewer teen lae omwentelinge en dit in stand hou namate omwentelinge toeneem.
Met die revolusionêre ratkas met sy oneindige verskeidenheid ratverhoudings kan die operateur die rathefboom vorentoe druk en, sonder dat die ratwisseling gevoel of gehoor word, verrig die trekker die taak seepglad terwyl die ratkas stilweg meer as 500 keer per sekonde met die enjin kommunikeer om onmiddellik op wisselende toestande te reageer.
Deur die rathefboom, wat net vorentoe en agtertoe skuif, te beweeg, kan die operateur die trekker teen van sowat 30 meter per uur tot 40 km/h laat loop.
Daar is ook 'n nuwe beheersentrum wat 'n mens toegang gee tot werkinligting van die trekker wat nooit voorheen beskikbaar was nie, soos brandstofverbruik per hektaar of per uur, tyd tot hervul, totale oppervlakte bewerk, ens. Instellings kan ook deur dié sentrum gedoen word.
Die trekkers kan toegerus word met 'n AutoTrac-stelsel wat hulle vir presisieboerdery geskik maak. Daarmee kan die operateur die stuurwiel los en sy aandag aan ander take gee terwyl die trekker op 'n satellietbeheerde lyn oor die land beweeg. Die operateur moet die trekker net by elke wenakker omdraai en dit sal self die lyn volg met 'n afwyking van hoogstens 100 mm.
Dié trekkers is op gegote onderstelle gebou, wat die gewigverspreiding op die voor- en agteras ideaal maak vir optimale vastrap sodat minder gewigte gebruik hoef te word wat grondverdigting ook beperk.
Die olie van dié trekkers word net elke 300 uur vervang.
John Deere se tegnici is toegerus met die kennis en gereedskap om die trekkers deurgaans aan die loop te hou. 'n Rekenaar word gebruik tydens die versiening van die trekker wat verseker dat staantyd en koste tot die minimum beperk word.
Drie modelle is in die 60-stroperreeks beskikbaar: Die 9560 CWS, 9660 STS en die 9760 STS. Hulle het enjins van onderskeidelik 179 kW, 227 kW en 254 kW. Die enjins is toegerus met 'n aanjaer wat die enjindrywing vir aflaai in die ry vir kort tye kan opstoot tot onderskeidelik 204 kW, 252 kW en 278 kW.
Verskeie unieke kenmerke is in die nuwe stropers ingebou, soos 'n snytafel van 9 meter wyd (die eerste) wat 30 % vinniger werk as vorige snytafels. Dit het ook die nuwe HydraFlex-flotterende stelsel sodat die tafel die kontoere van die land beter kan volg om 'n eenvormige snyhoogte te bied.
Met die unieke TouchSet outomatiese verstellingsmeganisme kan die dorsspoed, konkaafspeling, waaierspoed en sifopeninge vanuit die kajuit in die ry verstel word of met 'n kontrole aan die kant van die stroper en dit sonder enige gereedskap.
Die koringtafel word met een hefboom aan die kant van die stroper aangehaak.
Die drie modelle se graantenks kan onderskeidelik 7 200 liter, 8 800 liter en 10 600 liter hou.
Die nuwe koringtafels is ontwerp om by die hoë stroopvermoë van die nuwe masjiene aan te pas en is ontwerp om vermorsing tydens stroop te beperk. Dit is ook toegerus met nuwe swaardienslemme om dikker gewasse met gemak te hanteer, die vingers is oor die hele awegaarwydte gespasieer om 'n eenvormige invoeraksie te verseker, gesegmenteerde glyskoene word gebruik om gewasse wat omgeval het, beter op te tel. 'n Nuwe dubbelsnyslem-eenheid word gebruik met 'n dubbelsny-aksie sonder dat die snelheid van die snylemme verhoog word.
Dit het ook 'n nuwe invoermeganisme wat die materiaal met minder wrywing na die dorseenheid intrek.
Monitors vir presisieboerdery is standaardtoerusting, nuwe vogsensors is in die graantenks ingebou en 'n waaier met 'n groter vermoë word in die skoonmaakeenheid gebruik om skoner graan te gee.
'n Maklike keuse, dié drie nuwe modelle mediumgroot trekkers wat vir ligter werk op onder meer vee-, groente- en vrugteplase geoormerk is. Dié drie modelle is die 5215, wat aangedryf word deur 'n driesilinderenjin met turbo-aanjaer wat 40,5 kW ontwikkel, die 5315 met 'n soortgelyke enjin wat altesame 48 kW ontwikkel, en die 5515 met sy turbo-aangejaagde viersilinderenjin van 59 kW.
Hierdie ligte trekkers is volgens die vervaardiger heeltemal nuut ontwerp en het lekker sterk enjins, meer gerief en groter doeltreffendheid. Hul laer geraasvlakke en skoner uitlaatgasse voldoen aan die streng vereistes wat deesdae wêreldwyd gestel word.
Hulle is met of sonder kajuit beskikbaar.
Die enjins ontwikkel 'n hoër wringkrag met 'n betreklik plat kurwe teen lae omwentelinge wat dit ook suiniger met brandstof laat werk.
Vyf verskillende transmissiestelsels is beskikbaar. Daarby is die trekkers lig en hanteerbaar wat dit juis geskik maak vir take op plase waar soms in beperkte ruimte gewerk moet word.
Die versiening van die trekkers is maklik en die daaglikse inspeksies kan binne 'n minuut of twee gedoen word. Omdat dit so maklik is, word dit ook nie so maklik oorgeslaan nie.
Ál drie die modelle is met twee- en vier-wielaandrywing beskikbaar.
Hulle is ook beskibaar as boord- en wingerdmodelle. Ál die moderne tegnologie en voordele is ook in dié trekkers ingebou.
Die wingerdmodelle is 1,33 m wyd, hulle is van 3,432 meter tot 3,550 meter lank en 2,4 meter hoog met 'n kajuit en 1,45 meter hoog tot by die modderskerms.
Die wingerdmodelle met tweewielaandrywing is 1,05 m wyd en dié met vierwielaandrywing is 1,15 m wyd. Die ander afmetings is dieselfde.
12 Maart 2004