Duur en morsige herstelwerk het dié boer en opgeleide motorwerktuigkundige aangemoedig om sy eie windpomp te ontwerp wat sonder olie en met 'n eenvoudige skuifrem werk.
Toe mnr. Charles Mapp in 1995 windpompe vir boere begin herstel het, het hy agtergekom dat dié belangrike toestelle op plase gereeld verwaarloos word. Dit was 'n droogtetyd en daar was 'n spul stukkende windpompe in sy omgewing wat dringende herstelwerk nodig gehad het.
Mapp, van die plaas Bultfontein by Harrismith, het gevind een van die grootste probleme was wanneer olie uit die ratkas spat as die boonste stang breek. Bewegende onderdele wat duur is om te vervang, raak beskadig sodra die windpomp sonder olie loop.
Hy het snags wakker gelê soos hy aan 'n oplossing gedink het en kort voor lank sy eie windpomp-ratkas en -rem begin ontwerp.
Die resultaat is die C.MAPP-windpomp, wat al vier jaar met groot sukses op sy eie plaas werk, sê hy.
Dié windpomp werk sonder olie en het geen oliepan en -ringe nodig nie. Dit het 'n eenvoudige skuifremstelsel en veel minder bewegende onderdele wat kan breek.
Mapp het self 'n stel aangepaste ratte vir sy nuwe windpomp gemaak toe hy dit nie elders kon kry nie. Terwyl 'n standaard-windpomp met twee stelle ratte werk wat presies ingestel moet word, werk syne net met een stel wat 'n getande rubberrat laat draai en dus nie ingestel hoef te word nie.
Anders as die hoepelrem van 'n standaard-windpomp wat teen 'n drom loop en dikwels 'n klomp verstellings verg, werk sy windpomp met 'n eenvoudige dog doeltreffende skuifrem wat nie kan slyt nie en wat net 'n klein remskoen het. Mapp het die rem ook self ontwerp.
Al die laers van die Mapp-windpomp is geseël en dit werk net met een stang. Omdat die windpomp minder bewegende onderdele het wat kan slyt, is sy windpomp se onderhoud aansienlik goedkoper en eenvoudiger. 'n Standaard-windpomp se ratkas en rem kan betreklik goedkoop na sy ontwerp omgeskakel word, sê Mapp.
As van die onderdele onklaar raak, is dit soveel eenvoudiger vir 'n boer om die toestel self te versien. Die getande band is maklik bekombaar en kan op eenvoudige wyse vervang word as hy sou breek. Alle dele van die windpomp se ratkas kan sonder hystoerusting verwyder word.
Mapp het vroeër motorwerktuigkundiges in Bloemfontein opgelei voordat hy Harrismith toe getrek het. Hy het sy windpompkennis opgedoen toe hy daarna vir 'n tyd lank vir 'n bekende maatskappy windpompe opgerig het.
Sy C.MAPP-windpomp is gepatenteer.
'n Tweede C.MAPP-windpomp is op die plaas Skoondraai van me. Allison Oats naby Harrismith opgerig.
30 September 2005