Ondergrondse drupbesproeiing is die antwoord vir 'n volhoubare, goeie
lusernopbrengs op lande wat nie geskik is vir ander vorms van besproeiing, soos
spilpunte of vloedbesproeiing, nie. Water van 'n swak gehalte kan ook gebruik
word.
Water- en arbeidbesparing is vir mnr. Hannes du Plessis van die plaas Grootwaaihoek, Philippolis, die grootste voordeel van ondergrondse drupbesproeiing. Die landerye se vogstatus word vinnig tot op die verlangde vlak gebring en hy kan manalleen ál sy lusern se besproeiing behartig.
Hy het 16 ha lusern onder drupbesproeiing. Die oudste daarvan is 4 jaar oud. Dié lusern was voorheen onder vloedbesproeiing, maar hy het 'n drupstelsel daar geïnstalleer. Ná 4 jaar se gebruik kry hy nog steeds goeie resultate van die ondergrondse drupstelsel.
Sy stelsels wissel van druppype wat in rye van 1 200 mm, 1 000 mm en 750 mm uit mekaar geplaas is, afhangende van die soort grond. Die lusernopbrengs op die verskillende stelsels is baie na aan mekaar. Die druppers is 600 mm uit mekaar gespasieer in 'n drupperpyp van 16 mm dik en die druplyn-laterale is 300 mm onder die grond geïnstalleer. Hy het bevind hoe nader die druplyne aan mekaar is, hoe beter is die laterale beweging van besproeiingswater, wat gevolglik wortelverspreiding bevoordeel.
Hy besproei elke land daagliks 2 uur lank. Nadat die lusern gesny is, kry dit meer water en die hoeveelheid neem af soos wat dit nader aan snytyd kom. Hy glo deur die ondergrondse stelsel wat water bespaar, kan korter as met 'n gewone bogrondse besproeiingstelsel of vloedbesproeiing besproei word. Gemiddeld 25 mm besproeiingswater per week word toegedien.
Hy spoel sy stelsel elke 2 tot 3 weke skoon, hoofsaaklik om te verhoed dat organiese of fisiese vuilheid in drupperpype opbou. Die drupperlyne word tydens installasie op die kant van die land na die oppervlak gebring en afgebind. Die spoelproses behels dat die drupperlyne een vir een oopgemaak en uitgespoel word.
Die stelsel is toegerus met anti-vakuumkleppe op strategiese posisies, wat voorkom dat grond in die pype ingesuig word wanneer die stelsel ná besproeiing dreineer. Hy glo as die druppers oopgehou word deur die korrekte onderhoud toe te pas, kan sy stelsel minstens 15 tot 20 jaar werk voordat dit vervang hoef te word. Hy beklemtoon verder die belangrikheid van 'n korrekte ontwerp- en installeringsproses.
Afhangende van die gehalte van die water, kan stelselonderhoud op een van twee maniere toegepas word. Waar alge vorm, word chloor gebruik en in die geval van water met 'n hoë kalkinhoud word 'n suurbehandeling gebruik om druppers en druplyne skoon te hou en sodoende verstopping weens watergehalte te verhoed. Hierdie behandelings hou heelwat voordele in vir gebiede met water van swak gehalte.
Die sukses van die stelsel is ook baie afhanklik van goed gefiltreerde water. Sand- of skyffiltrering met 'n filtreringsgraad van minstens 115 mikron word aanbeveel.
Om wortelindringing in druppers te voorkom, word 'n spesiale onkruiddoder twee maal per jaar deur die pype gespoel. Behandelings vind gewoonlik aan die begin en einde van die winter plaas. Hy besproei jaarliks van Julie tot aan die einde van Mei.
Hy sê vir hom is nóg 'n voordeel van die besproeiingstelsel dat dit die grond los hou. Waar die grond tydens bewerking of sny vasgetrap word, raak dit weer losser sodra besproei word.
Program
Mnr. Du Plessis laat sy lusern nie bewei nie. Hy haal 7 snysels per jaar af (sowat 25 ton per hektaar per seisoen) en besproei tot vyf dae voordat gesny word. Hy besproei en sny sy lande volgens 'n vasgestelde program.
Om 'n lusernland onder drupbesproeiing te vestig, kos sowat R14 000/ha. Die saad word teen 18 kg tot 20 kg per hektaar gesaai. Die inkomste daaruit is R540/t. Die insetkoste sal binne 3 jaar verhaal kan word.
Dit is belangrik om die grond en water te laat ontleed voordat die lusern gevestig word, sodat bemesting- en besproeiingkundiges die stelsel reg sal ontwerp en bestuur.
Mnr. Fritz Lourens, bestuurder van die plaas Bultfontein, Philippolis, sê hy besproei sy lusern vir 24 uur nadat dit gesny is. Daarna besproei hy 3 weke ná mekaar teen 9 uur per week voordat hy weer sny. As dit nodig is, verleng hy die tweede besproeiing van 9 uur tot 12 uur. Hierdie program voorsien sy lusern van gemiddeld 28 mm besproeiingswater per week. Sy stelsel is ook só ontwerp dat hy net met Ruraflex-tyd besproei om krag te bespaar.
Hy glo daaraan om lank genoeg te besproei om die vog wyd genoeg te laat sprei om by al die plantwortels uit te kom. Profielgate het aangedui dat goeie wortelontwikkeling dwarsdeur die grondprofiel voorkom. Die reënvalsyfers van die omgewing bepaal hoeveel besproei word. Hy gebruik 'n maatstaf waarvolgens die helfte van die reënval as effektief gereken word. Reënval van minder as 15 mm word buite rekening gelaat.
Om genoeg vog beskikbaar te hê sodat die wortels wyd kan sprei, word sy drupperlyne in rye van 1 300 mm uit mekaar en 300 mm onder die grond gelê. Die druppers is 600 mm uit mekaar in die druplyn gespasieer. Die diepte van die pype maak bewerking bo-oor moontlik. Mnr. Lourens voorsien dat hy ná 8 tot 10 jaar weer lusern suksesvol sal kan vestig oor die drupstelsel. Die stelsel word elke 1 tot 2 weke skoongespoel.
Wanneer nuwe lusern gevestig word, is dit belangrik dat die eerste besproeiing minstens 24 uur moet duur om te verseker dat die hele grondprofiel tot 'n diepte van 1 m benat word. Die gevolg is dat die lusern weer vinnig groei nadat dit gesny is en die grond vinnig bedek word, wat minder verdamping van die oppervlak af tot gevolg het. Fosfaat en kalium word op grond van grondontledings volgens behoefte as wateroplosbare kunsmis deur middel van die besproeiingswater toegedien.
Die gebruik van die ondergrondse stelsel op Bultfontein beteken dat daar tans 14 ha vir lusern benut kan word, teenoor 9 ha wat beplant sou kon word as spilpuntbesproeiing gebruik is. Die beplanning is om nóg 26 ha lusern te vestig. Die vestiging van die lusern kos sowat R15 000 per hektaar.
Mnr. Lourens sê wanneer só 'n stelsel oorweeg word, is dit belangrik om die ontwerp en beplanning deur 'n kenner te laat doen. In sy geval is die ontwerp gedoen deur 'n professionele landbou-ingenieur van die Vrystaatse Universiteit wat spesialiseer in ondergrondse besproeiingstelsels.
Druptoerusting van goeie gehalte is gebruik, wat verseker dat die stelsel vir ten minste 12 jaar foutvrye diens sal verskaf. Die gebruik van drupbesproeiing in blokke van 1 hektaar tot 1,5 hektaar maak die doeltreffende besproeiing van verskillende grondtipes volgens behoefte moontlik.
Vlakker grondsoorte het byvoorbeeld meer gereeld besproeiing nodig. Verder kan onbenutbare dele uitgelaat word. Met 'n spilpunt sou mnr. Lourens onbenutbare dele ook moes besproei, wat tot onnodige verliese sou lei.
Anti-vakuumlugkleppe op die hoogste punt in elke blok keer dat grond in die druppers ingesuig word.
Hy gebruik die kultivar SA Standaard, want hy glo dit gaan vir hom die langste gebruik gee. Op die oomblik is sy mikpunt 'n gebruiksduur van 8 tot 12 jaar. Sy opbrengs per snysel in sy eerste seisoen was 2,8 t/ha tot 3,2 t/ha. Hy voorsien dat hy 6 snysels per seisoen sal kry.
Mnr. Lourens baal nie sy lusern nie. Hy het 'n pilfabriek op die plaas, waar hy al die lusern in voerpille verwerk. Dit beteken vir hom 10 % tot 15 % in waardetoevoeging.
Hoewel mnre. Du Plessis en Lourens se stelsels verskil wat skedulering en druplynspasiëring betref, verkry albei goeie resultate, wat daarop dui dat ondergrondse drupbesproeiingstelsels maklik in alle omstandighede bestuur kan word.
Kyk ook hierna
Tegniese inligting wat in aanmerking geneem
moet word wanneer ondergrondse drupstelsels oorweeg word, is die volgende:
17 Mei 2002