Probleme is alledaags en vir sommige veroorsaak dit normaalweg 'n kopseer, maar baie Suid-Afrikaners is egter gebore met die vermoë om nie terug te deins wanneer hulle voor 'n probleem te staan kom nie - soos die spreekwoord lui: " 'n boer maak 'n plan".
Dit is ook bekend dat probleme juis geleenthede skep vir die ontwikkeling van nuwe idees en werkbare oplossings. Afgesien daarvan dat die kreatiewe denker 'n gevoel van selfvervulling en tevredenheid beleef wanneer hy 'n oënskynlik onoorkombare probleem aangepak en suksesvol oorkom het, wonder hy of sy soms of daar nie dalk enige verdere vergoeding is vir sy of haar kreatiewe denke nie.
Dit is wanneer patentering in die prentjie kom. 'n Patent kan verleen word vir enige nuwe uitvinding wat op 'n vindingryke handeling berus, en wat in die handel of nywerheid of landbou aangewend of toegepas kan word (artikel 25(1) van die Wet op Patente).
Dus, indien jy kreatief dink en geneig is om probleme aan te pak en nuwe oplossings daarvoor te vind, moet jy dalk net in gedagte hou dat jou idees jou eie intellektuele eiendom is, en dat jy geregtig is daarop om ook deur middel van patentering verdere inkomste daarmee te genereer. Daarom is dit uiters belangrik om beskerming vir jou intellektuele eiendom te oorweeg voordat jy dit bekend maak aan die publiek.
Sorg moet egter aan die dag gelê word dat die eiendom nie aan die publiek beskikbaar gestel word op enige wyse voor die indiening van 'n patentaansoek daarvoor nie. Indien 'n uitvinding aan die publiek beskikbaar gestel is, (hetsy binne die Republiek of elders) deur skriftelike of mondelinge beskrywing, deur gebruik of op enige ander wyse, voor die indiening van 'n patentaansoek vir die uitvinding, is die nuutheid daarvan geskaad en is die uitvinding nie meer patenteerbaar nie.
Wat is 'n patent?
'n Patent is 'n regsdokument wat aan die uitvinder 'n monopolie met betrekking tot sy intellektuele eiendom verskaf. Wanneer 'n patent, waarop 'n uitvinding gebasseer is, toegestaan word ontvang die eienaar van die patent 'n afdwingbare reg wat soms na verwys word as 'n "lisensie om te dagvaar". Dit mag dalk erg klink, maar dit is presies waarop dit neerkom.
Die uitwerking van 'n patent is om aan die patenteienaar, vir die duur van die patent in die Republiek, die reg te verleen om ander persone uit te sluit van die vervaardiging, aanwending, uitoefening, van die handsetting, aanbieding vir van die handsetting of invoer van die uitvinding, sodat hy of sy al die wins en voordeel wat uit die uitvinding ontstaan, verkry en geniet. 'n Patent is ook van fundumentele belang omdat 'n uitvinder deesdae nie veel kan regkry sonder dit nie.
Die meeste besighede, wat potensiële kopers van of besigheidsvennote in die patent kan wees, toon gewoonlik nie eers belangstelling as hulle genader word deur iemand wat ooglopend die waarde van patentering onderskat nie. Daar word gewoonlik nie van die uitvinder verwag om 'n toegestaande patent te hê voordat hy of sy potensiële kopers of besigheidsvennote nader nie, en 'n voorlopige patentaansoek is normaalweg voldoende.
Die voorlopige patentaansoek kan deur die uitvinder self ingedien word, maar dit word sterk aanbeveel dat 'n patentprokureur eerder genader word, omrede 'n voorlopige patent spesifikasie vir die voorlopige patent aansoek as basis moet kan dien vir verdere patentaansoeke en dat die opstel daarvan in beide tegniese en regstegniese taal die uitvinder beter beskerming kan gee.
Watter stappe moet 'n uitvinder volg indien hy of sy dink dat die uitvinding dalk 'n hen is wat die goue eiers mag lê?
Eerstens, uitvinders moet versigtig wees dat die opgewondenheid, wat hulle beleef wanneer hulle 'n nuwe produk of proses ontwikkel het, nie tot hul eie nadeel strek nie. Vasgevang in opgewondenheid nader menige uitvinders gewoonlik dadelik familie of vriende om hulle mening rakende die nuwe uitvinding te toets, min wetend dat familie en vriende geneig is om meestal positiewe terugvoer te lewer.
Afgesien van verhoogde opgewondenheid kan so 'n mededeling (wat nie konfidensieël gedoen word nie en ook nie op redelike tegniese proefneming of eksperiment neerkom nie) verder daartoe lei dat die nuutheid van die uitvinding geskaad word, veral as die familie of vriende nie in goeie trou teenoor die uitvinder optree nie. Verhoogde opgewondenheid kan maklik ook veroorsaak dat irrasionele besluite rakende die uitvinding, soos bekendmaking vir bemarkingsdoeleindes aan besighede sonder 'n behoorlike voorlegging en intellektuele eiendomsreg-beskerming, geneem word.
Tweedens behoort 'n patentprokureur genader te word vir raad rakende beskerming van die uitvinding voordat daar met enige iemand anders oor die uitvinding gesels word. 'n Eenvoudige telefoonoproep aan 'n patentprokureur, waarin daar verduidelik word of die uitvinding nog in konsepfase of in 'n gevorderde fase is, sal die uitvinder gewoonlik in staat stel om advies te kry met betrekking tot die gepaste roete wat hy of sy behoort te volg in patentering van die uitvinding. In meeste gevalle is 'n eerste konsultasie met patentprokureurs ook kosteloos terwyl die inligting en advies wat daar ontvang word van besondere waarde is.
Na gelang van die geval word die uitvinder normaalweg geadviseer om die patenteringsproses te begin hetsy met 'n voorlopige-, 'n volledige-, of 'n internasionale patentaansoek. Sodra 'n patentaansoek namens die uitvinder ingedien is by die Suid-Afrikaanse patentekantoor, verkry die aansoeker 'n voorkeurdatum (die datum van indiening) om sy regte te beskerm. Daarna kan die aansoeker die uitvinding aan andere bekendstel sonder dat sodanige bekendstelling op sigself die geldigheid van enige patent wat hy vir die uitvinding mag verkry, kan benadeel.
Na patentering van die uitvinding word daar ten sterkste aanbeveel dat die uitvinder soveel moontlik "huiswerk" doen. Dit kan onder andere die volgende aspekte insluit:
Patentprokureurs kan ook in dié verband genader word omdat hulle normaalweg toegang tot patent-spesifieke betalingsdatabasisse het. Daar moet egter in ag geneem word dat geen ondersoek ooit as deurslaggewend ten opsigte van nuutheid beskou kan word nie, maar dis gerusstellend om te weet, hoe meer jy soek, hoe beter is die kans dat jy die nuwe en vindingryke eienskappe van jou uitvinding sal raaksien vergeleke met dit wat reeds bestaan.
1 Junie 2009