Met die kundige samevoeging van verskeie alternatiewe kragbronne wek 'n boer al jare lank betroubare elektrisiteit goedkoper op as waarteen Eskom dit kon verskaf.
Met die koms van permanente kragvoorsiening aan plase het die blote gedagte aan moeitevrye en grootliks betroubare elektrisiteit met die druk van 'n knoppie talle boere in afgeleë dele so betower dat hulle dikwels nie behoorlike kosteberekenings gedoen het nie. Baie het geteken sonder om behoorlik na alternatiewe moontlikhede te kyk.
Maar nie almal nie, soos onder meer die Van der Vyvers van die plaas De Rust, Aberdeen. Mnr. Wilhelm van der Vyver sê Eskom het sowat 20 jaar gelede boere in daardie gebied genader om deel van 'n netwerk te word. Diesel-kragopwekkers was toe nog algemeen in gebruik. In daardie stadium het sy pa, saam met wie hy boer, die versoek ook oorweeg, maar hulle het eers behoorlik somme gemaak.
Die uitslag van ál die kosteberekeninge was dat Eskomkrag toe te duur was, waarskynlik weens die lang afstande waaroor die lyne aangelê moes word. Dit sou in hul geval kostedoeltreffender wees om eerder die geld wat hulle aan Eskomkrag sou bestee in alternatiewe kragopwekking te belê, sê Van der Vyver.
Die daad is by die woord gevoeg. Eerste aan die beurt was sonpanele wat in die laat 1980's geïnstalleer is en 36 volt gelykstroomkrag vir huishoudelike gebruik gelewer het. Dit is hoofsaaklik gebruik om lig te voorsien.
Nog later is die stelsel opgegradeer met 'n gebruikte omsetter wat 36 volt na 220 volt kon omskakel. Dit is 'n 36 volt-drukstelsel met 'n 220 volt-lyn wat van die omsetter geloop het en het die gebruik van basiese toerusting in die huis, waaronder wasmasjiene, stofsuiers en selfs 'n mikrogolfoond, moontlik gemaak.
Volgens Van der Vyver is die plaasopwekking van krag sowat vyf jaar gelede weer in heroorweging geneem. Aangesien krag, met die moontlike uitsondering van 'n enkele waterpomp, hoofsaaklik in die huis gebruik word, was Eskomkrag steeds te duur, al kon die boerdery dit bekostig.
Hierdie bevinding berus op behoorlike studies wat gemaak is met die hulp van verskeie tegniese kenners benewens sy eie deeglike navorsing. Iemand met meer kommersi-ele gebruike vir elektrisiteit se somme sal moontlik heelwat anders lyk, sê hy.
Nuwe tegnologie vir alternatiewe kragbronne het ook na vore gekom. Ná oorweging daarvan is besluit dat sonpanele nie langer al bron sal wees nie. Dit is toe dat die gedagte van gekombineerde bronne van kragopwekking ontstaan het om in hul behoeftes te voorsien.
Sonkrag sou steeds die anker wees, grootliks omdat dit die goedkoopste en mees voorspelbare bron van krag in die Karoo is.
Waterkrag is ook oorweeg. 'n Fontein met die vereiste val van 30 meter danksy die plaas se ligging teen die suidelike hange van die Kamdebooberge, skep die geleentheid om hidro-elektrisiteit op te wek. Dit is egter nie ontwikkel nie.
Die volgende moontlikheid was die benutting van wind. Daarvan was daar genoeg en dikwels van stormsterkte weens die opstal se ligging teen die Kamdebooberge. Gedagtig hieraan het die keuse op die Air 403-windlaaier uit Amerika geval. Dit is 'n laaier wat teen hoë snelhede werk en bestand is teen stormwindskade. Dit hoef ook nie waterpas gemonteer te word nie en op De Rust is dit sommer op 'n windpomppyp gemonteer. Dit werk doeltreffend.
Van der Vyver is tevrede om met die wind tot sy beskikking 200 watt tot 400 watt op te wek. Dit is gelykstaande aan twee tot vier sonpanele se lewering en genoeg om 'n rekenaar, 'n wasmasjien (sonder verhitting) en enkele ander toestelle met soortgelyke kragbehoeftes aan te dryf.
Die windlaaier lewer dikwels genoeg krag om in die nagtelike behoeftes van die plaas te voorsien.
Dinge soos koelkaste, ligte en TV-stelle verbruik sowat 10 % van die totale krag snags. Daardie krag moet die volgende dag teruggeplaas word. Nogtans het hy gesien dat as die wind die nag waai, die windlaaier volkome daarin voorsien. Dit is gevolglik, danksy die windlaaier, dikwels nie nodig om eers die vorige nag se kragverbruik terug te plaas voordat die volgende dag se behoeftes opgewek moet word nie.
Hierdie soort windlaaier kos R3 000 tot R5 000.
Die hoofargument ten gunste van die windlaaier is dat wind 'n staatmaker word wanneer die lig swak is, soos op bewolkte dae. Op helder sonskyndae lewer die sonpanele meer as genoeg krag. Die bedoeling met die windlaaier is dus nie om in 5 % of 10 % van die totale kragbehoeftes te voorsien nie. Dit is die taak van die sonpanele. Die windlaaier kom tot sy reg wanneer die klimaat minder gunstig is vir die sonpanele om krag op te wek, sê Van der Vyver.
Die dieselkragopwekker speel steeds 'n belangrike rol. Dit is nie die bedoeling om daarsonder klaar te kom nie. Dit is toegerus met 'n 220 volt-alternator wat 3 kW lewer.
Die dieselstelsel word net as noodmaatreël gebruik, soos wanneer die beskikbare elektrisiteit in die batterybank te min raak. In sulke gevalle word die batterybank tydelik aan kragvoorsiening onttrek en van die dieselenjin verwag om die volle kragbehoeftes vir 'n gegewe tydstip op te wek sowel as om weer die batterybank aan te vul.
Tweedens word die dieselkragopwekker ingespan wanneer swaarder toerusting aangedryf moet word.
In die afgelope twee jaar is slegs 38 liter diesel per jaar vir kragopwekking gebruik.
Talle mense glo dat 'n sonpaneel in die winter ondoeltreffend is. Van der Vyver sê dit is nie so nie, dit sal eerder in die somer in die somerreëngebied minder doeltreffend werk wanneer dit gereeld reën. In geval van sonpanele is dit nie 'n geval van hoe meer son hoe meer hitte nie. Sonpanele bestaan uit selle wat deur ligintensiteit geaktiveer word. Temperatuur speel egter wel 'n rol. Bo 25 grade C neem doeltreffendheid af en werk ys- en vrieskaste boonop harder wat groter eise aan kragopwekking stel.
Wenke vir besparing
Wanneer 'n alternatiewe elektrisiteitstelsel beplan word, moet onthou word dat nie alles in die huis elektries aangedrewe hoef te wees nie. Gas en hout vul elektrisiteit goed aan vir waterverwarming en kook sonder om 'n ergernis te wees, sê mnr. Wilhelm van der Vyver van Aberdeen.
"Sonpanele en batterye is duur. Onnodige uitgawes kan beperk word deur eers jou verbruik te bepaal en daarvandaan terug te beplan. Anders as wat soms geglo word, is 36 volt gelykstroomligte nie goedkoper nie. Dit is veel goedkoper om 'n 220 volt-stelsel eenmalig te installeer en die energiebesparende lampe te gebruik."
Voorts beveel hy aan dat ou vries- en yskaste met nuwerwetse kragdoeltreffende modelle vervang moet word. "Moet veral nie voor die goedkoop soorte swig nie. Uiteindelik gaan hulle jou 'n hele aantal bykomende sonpanele en groter batteryvermoë uit die sak jaag." Sy eie vrieskas het 'n 145 watt-motor en gebruik minder krag as sy rekenaar.
Beplan vir minstens 25 % meer krag as wat die beraamde verbruik is. Hier word dikwels foute gemaak. Daar is altyd nog 'n dingetjie wat moet bykom as die gerief eers daar is. Agterna is dit duur en moeilik om 'n opgradering van selfs net 10 % te doen, sê Van der Vyver.
"Die werklik doeltreffende tegnologie van die toekoms in soverre dit kragvoorsiening aangaan, lê in 24 volt- en 48 volt-stelsels. Plaaslik is 36 volt as 'n soort tussenin-tegnologie bemark. Plaaslik vervaardigde toerusting neig om nie so energiedoeltreffend te wees soos dié wat in die buiteland beskikbaar is nie. Dit maak dus geldelike sin om die hoofstroomontwikkeling te volg."
Volgens hom is 'n 36 volt-omsetter effens meer as 70 % doeltreffend. Die res van daardie krag word letterlik gebruik om krag te maak. Daarteenoor is sy hoofstelsel 91 % doeltreffend sodat minder as 10 % krag vir omsetting tot 220 benodig word.
Gereelde diep ontlaaiing verkort die lewe van standaardbatterye. Skaf dus eerder batterye met diep siklusse aan. 'n Stelsel behoort sodanig beplan te word dat die daaglikse verbruik nie meer as 20 % van die batterye se vermoë oorskry nie. Jy moet in die dag kan terugsit wat snags verbruik is sonder om deur diep siklusse te gaan.
"Wanneer swak weer kragopwekking aan bande lê onderwyl verbruik toeneem, moet 'n mens nie huiwer om die dieselenjin aan te skakel nie. Dit mag wel 'n paar liter diesel kos, maar die koste is aansienlik minder as 'n nuwe battery. Dit geld ook die aanskaf van 'n windlaaier.
Ten slotte wys Van der Vyver op die belangrikheid om die hulp van kenners in te roep vir die ontwerp van 'n kragstelsel. Dit verseker maksimum doeltreffendheid, is sy raad.
20 Januarie 2006