Die regte plantestand is noodsaaklik om moderne
mieliebasters se goeie opbrengspotensiaal te
verwesenlik.
In die jongste tyd vorder die tegnologie in presisieboerdery vinnig. Wisselende bemesting volgens die grondtipe en -potensiaal raak ál gewilder, maar vir mnr. Frik van Rooyen van Lichtenburg is daar nog talle vrae wat hom kwel.
Hoe goed en betroubaar is die grondontledings? Sit 'n mens die kunsmis op die regte plek neer? En wat is die veranderlikes in die produksieproses wat alles hierop kan inwerk?
Dié vrae het Van Rooyen laat besluit om dié dinge stap vir stap aan te pak en as hy die een onder die knie het, beweeg hy verder. Só het hy sowat sewe jaar gelede daaraan begin werk om 'n akkurater plantestand op die land te kry wat presies reg gespasieer is om vog en voedingstowwe doeltreffend te benut en ook by sy bewerkingspraktyke te pas.
Hy het in 1991 sy eerste grond in die omgewing van Lichtenburg gekoop waarop hy 300 ha mielies geplant het.
Vandag plant hy en sy bestuurder, mnr. Gawie du Plessis, 3 000 ha en het hulle nou só ver gevorder dat hulle kalk en kunsmis teen 'n wisselende tempo gaan begin toedien.
In sy soeke na 'n planter wat akkuraat kan plant sodat sy verdere metings met 'n sensor op sy stropers sinvol vertolk kon word, het Van Rooyen van die modernste tegnologie in Amerika raakgeloop wat nou deur 'n onderneming wat hy en ander boere saam gestig het, bemark word.
"Ek stoei oor die jare daarmee en vra myself dikwels of die klomp moderne toerusting die moeite werd is, want niemand kon in die verlede nog sê dit werk regtig en 'n mens maak meer geld daarmee nie.
Beter produkte
"Wat wél waar is, is dat daar voortdurend nuwe en beter produkte op die mark kom wat dit makliker maak om presies te meet. Dit het daartoe gelei dat - met inligting wat ons oor die afgelope sowat sewe jaar ingewin het - ons nou 'n databasis het wat ons sinvol kan begin gebruik," sê hy.
Vroeër jare het die boere hoofsaaklik oopbestuifde mieliekultivars geplant wat betreklik goed aangepas was om te vergoed vir 'n swak plantestand. Die nuwe kultivars is egter grootliks enkelkruisings wat baie eenvormig groei en ook eenvormige koppe maak.
As daar dus 'n pit nie geplant word nie, verloor jy een of twee koppe en as daar twee pitte by mekaar val, kry jy dieselfde of soms 'n swakker opbrengs as wanneer daar net een pit geplant is.
"Ons het dit op die monitor op ons stropers begin opmerk dat waar die plantestand reg is, is die opbrengs ook goed. Maar dit is ook só dat planttyd 'n kwessie van tydsberekening is en toestande nie altyd optimaal is om te plant nie.
"Daarom het ons by die planter begin. Ons wou seker maak dat ons in sulke toestande optimaal kon plant en daarvoor moes die planter reg wees. Vandag weet ons dat ons planters 98% akkuraat plant en as die mielies nie reg opkom nie, moet ons 'n ander oorsaak soek," sê Van Rooyen.
In sy soektog om akkurater te plant, het hy op 'n Amerikaanse boer, mnr. Greg Sauder, afgekom, wat baie geesdriftig is oor die akkurate plant van saad van feitlik enige grootte. Sauder doen sy eie navorsing. Hy het ook 'n ingenieursonderneming wat net so toegewyd is soos hy en wat hom help om probleme op te los soos wat hy dit teëkom.
Van Rooyen en die ander boere het van Sauder se toerusting begin invoer. Die onderdele wat hulle gedink het sou werk, is stuk-stuk ingevoer en hier op planters gemonteer om te kyk of dit werk.
Onderdele ingevoer
Op dié manier is verskeie stukke toerusting geïdentifiseer waarmee hulle geslaag het om verskeie veranderlikes tydens die plantproses uit te skakel. Dit het daartoe gelei dat Van Rooyen en ander boere wat dieselfde belangstelling het, die onderneming Cerealis Precision gestig en van die onderdele begin invoer het sodat meer boere by dié voordele baat kon vind.
As boere in Amerika - waar hulle tot 100 000 plante per hektaar plant - bekommerd is oor 'n pit wat nie daar is nie, of wat nie op die regte plek geplant word nie, hoeveel te meer is dit van belang vir die Suid-Afrikaanse boere wat op party plekke net 15 000 plante per hektaar kan aanplant.
Deur die jare is van die onderdele ook aangepas vir Suid-Afrikaanse toestande. Dat hulle die vrugte daarvan pluk, is gewis. Verlede seisoen was dit besonder droog tydens planttyd en as hulle nie toe die plastiek-armpies (vasdrukkers) wat hulle gebruik, agter die plantgeut gehad het nie, sou dit bars gegaan het om betyds klaar geplant te kry. Met die toerusting kon hulle tot twee dae langer as hul bure plant.
As die grond te nat is, smeer die vooroopmakers van die planter die plantvoor waarin die pitte geplaas word sodanig dat dit wortelontwikkeling kan beperk. Gewone vastrapwiele trap die grond ook só vas dat die mielies moeilik kan deurgroei. Van Rooyen en sy vennote het spesiale vastrapwiele ingevoer wat die grond effens loswerk en dit van die kant af vastrap sodat die saad stewig vas is, maar die grond bokant die plantry effens los bly sodat die mielies makliker kan opkom.
Die volgende stap in die ontwikkelingsproses is om kalk en kunsmis teen wisselende hoeveelhede toe te dien volgens die gehalte en die opbrengspotensiaal van die grond.
Herstel spoelskade
Die meeste van hul landerye word 350 mm tot 400 mm diep met beitelploeë bewerk, maar waar dit nodig is, word daar van tyd tot tyd geploeg om spoelskade te herstel, of selfs diep bewerkings met 'n skeurploeg gedoen om beperkende verdigtingslae op te hef.
Die lande word deurentyd skoon gehou. Ná die eerste goeie reën word die plantrye uitgemerk en word selfstuurtrekkers gebruik wat met die hulp van satelliete die rye presies spasieer.
Vogtoetse word gedoen en hulle plant net vroeër as die grond betreklik na aan veldkapasiteit is, anders wag hulle vir die normale planttyd vanaf die laaste week in November tot in die middel van Desember.
Die plantestand waarna hulle mik, wissel van 18 000 tot 35 000 plante per hektaar in rye wat 2,3 m uit mekaar is, na gelang van watter mieliebaster geplant word. Ál die bemesting, naamlik 75 kg stikstof, 15 kg fosfor en 15 kg kalium per hektaar, word met planttyd toegedien.
Sowat twee derdes van die stikstof word as bobemesting tydens planttyd sowat 330 mm weg van die plantry af geplaas sodat dit beskikbaar is sodra die plante se wortels begin sprei.
Onkruid in die bane en tussen die rye word bekamp met 'n onkruiddoderbespuiting tydens planttyd, een skoffelbewerking en 'n opvolg-onkruiddoderbespuiting, drie tot vier weke nadat die mielies opgekom het. Siektes en insekte word bestry soos wat dit sigbaar word tydens weeklikse inspeksies. Die oesreste word net ná strooptyd met 'n kontrasnyeg ingewerk en glad nie met vee benut nie.
Die gemiddelde opbrengs die afgelope tien jaar is 4,3 ton per hektaar.
Landbouweekblad, 9 Mei 2008