Massey Ferguson se nuwe trekkers is tegnologies gevorderd en is besig om landwyd hul stem dik te maak, hetsy met grondvoorbereiding in die Vrystaat en Mpumalanga, die sleep van reuse-minimumbewerkingsplanters in die Suid-Kaap of die vervoer van suikerriet in KwaZulu-Natal.
Massey Ferguson kom uit die Agco-stal, wat ook ander tophandelsmerke, soos Challenger, Fendt, Valtra, Sisu en Sunflower, insluit. "En omdat die uitruil van doeltreffende toptegnologie deel is van Agco se sakefilosofie, trek ons - en die plaaslike boer - voordeel daaruit," sê mnr. Gerrie Wagenaar, Barloworld Equipment Agriculture se streekbestuurder vir Massey Ferguson en Challenger.
" 'n Voorbeeld hiervan is die MF 8400- en MF 7400-reeks, wat oor landbou se mees beproefde, deurlopend wisselende transmissie beskik. Dié transmissie, beter bekend op Engels as CVT (continuously variable transmission), is deur Fendt ontwikkel en word al wêreldwyd in 50 000 trekkers gebruik. Saam met Sisu-enjins sorg dit vir puik werkverrigting, doeltreffende brandstofverbruik en laer produksiekoste per hektaar."
Pleks van 'n tradisionele ratkas bied die CVT-transmissie 'n onbeperkte aantal traplose verhoudings, sodat die beste kragoordragverhouding met die doeltreffendste enjinomwentelings, kraglewering en brandstofverbruik gehandhaaf word. Daar is geen verwisseling van ratte nie en die koppelaar word slegs gebruik wanneer werktuie aangehaak word.
Dié tegnologie kom voor in die vlagskip MF 8480 (235 kW), die MF 7485 (113 kW) en die MF 7495 (140 kW). Mnr. Manie van Niekerk van Kroonstad is een van Suid-Afrika se boere wat die MF 8480 gebruik. "Ek kan nie beskryf wat 'n verskil die CVT-transmissie maak nie," sê hy.
"Die MF 8480 kan nooit 'n fout maak nie - as hy eers ingestel is, werk hy altyd op die regte diepte en met minimumwielglip. Dit sorg ook vir goeie dieselverbruik - 14 liter per hektaar wanneer dit 'n driery-skeurploeg met twee stelle tande (wat 800 mm diep werk) teen 7 km/h sleep. En met sy goeie grondvryhoogte kom die trekker maklik oor 500 mm hoë aartappelwalle om te lem."
Die MF 8480 kom nou met die opsie van die satellietbeheerde AutoGuidenavigasiestelsel wat vir Challenger-rusperbandtrekkers ontwerp is. Dit is ook toegerus met Agco se nuwe GTA-presisieboerderystelsel.
'n Bekende in graankringe, mnr. Dries Cronjé van Ogies, het verlede jaar 'n MF 7485 van 113 kW aangeskaf om sy agtry-geenbewerkingplanter van 7,8 ton uit Brasilië te sleep. Die planter word gebruik om mielies, sojabone en suikerbone te plant.
Hy het die trekker gekies op grond van die diens wat hy van sy handelaar, Filterdienste van Bethal, kry en sy vertroue in die tegnologie, veral in die Sisu-enjin, wat hy as hoogs ekonomies ken. Hy is ewe in sy skik met die resultate. "Die transmissie sorg vir die ideale ratverhoudings, wat werkverrigting optimaliseer, en die brandstofverbruik is uitstekend."
Sy MF 7485 sleep 'n breëwerkskoffel- tandwerktuig van 6 m teen 11 km/h (die dieselverbruik is 5,8 liter/ha) en 'n kontraskotteleg van 4,5 m teen 10 km/h (sy dieselverbruik is 4,4 liter/ha). "In sandgrond het die MF 7485 die planter teen 10 km/h gesleep en teen 1 800 enjinomwentelings per uur het hy met hom gespeel."
"Wielglip is minimaal - sowat 5 % in sandgrond. Hy wil net nie gly nie! En die MF 7485 het ook die ideale krag-massaverhouding - aangehelp deur die langste wielbasis in sy klas," sê Cronjé.
Gevorderde tegnologie-opsies is ook beskikbaar in die MF 6400- en MF 5400-reeks. Drie nuwe MF 6400-modelle is beskikbaar: Die MF 6475, toegerus met 'n byderwetse turbo-aangedrewe Perkins-enjin wat 99 kW lewer, asook die MF 6485 en MF 6495, toegerus met turbo- aangedrewe Sisu-enjins wat onderskeidelik 118 kW en 136 kW lewer. Dié drie modelle beskik oor Massey Ferguson se nuwe Dyna-6-kragskuiftransmissie, wat ses kragskuifratte in vier gange bied.
Die MF 6400-reeks het ook 'n nuwe lugfilterstelsel wat 'n voorafreiniger insluit. 'n Unieke eienskap van die MF 6400- en die MF 7400-reeks is dat die kilowatt op die kragaftakas dieselfde is as die kilowatt wat die enjin lewer teen die aangeslane omwentelings, wat krag- en brandstofbesparings meebring, sê Wagenaar.
Die MF 5400-reeks (67 kW tot 87 kW) spog met 'n Dyna-4-semikragskuifratkas - die gevorderdste transmissie in dié kilowatt- klas - en byderwetse Perkins-enjins om doeltreffende werkverrigting te verseker.
Landbouweekblad, 20 Julie 2007