
Dit was die mening van mnr. Francois Strydom, hoofbestuurder van Senwes, met die bekendstelling van John Deere se splinternuwe John Deere X9 1000- en 1100-stropers op ’n boeredag op Bothaville.
“Suid-Afrikaanse boere se aanvaarding van tegnologie is heel moontlik van die hoogste in die wêreld. Een van die redes daarvoor is waarskynlik omdat hulle van die laags gesubsidieerde boere ter wêreld is. Hoe hulle kan verbeter, is eerstens om op tegnologie staat te maak vir beter doeltreffendheid en tweedens skaalekonomie. Boere is baie bewus daarvan. Tegnologie is nie net daar vir ’n ‘nice to have’ nie, maar om boerdery goedkoper, vinniger en bekostigbaarder te maak,” het Strydom gesê.
Gesien in die lig van die moeilike seisoen wat veral graanboere in die westelike produksiestreek vanjaar beleef het, kom die bekendstelling van ’n stroper wat vinniger en meer kan stroop dus op ’n welkome tyd. Strydom het gesê lande wat lank duur om af te droog, beteken dat wanneer lande wel gereed is, moet vinnig gestroop word om die oes in te bring.
“Die John Deere X9-reeks is splinternuut ontwerpte werktuie wat mielies teen tot 250 ton per uur kan stroop. Dit beteken weliswaar dat dit ’n stroper is vir besproeiingslande waar opbrengste hoër is om die stroper tot sy volle reg te laat kom, maar met hierdie kapasiteit beteken dit ook dat boere vinniger en doeltreffender kan stroop,” het mnr. Philip Plessis, gebiedsbestuurder vir John Deere in Afrika en die Midde-Ooste, gesê.
Die John Deere X9 het ’n 450 kW-enjin en is toegerus met dubbelrotors en ’n dorsoppervlakte van 5,2 m2 met 7 m se sifoppervlakte om materiaalskeiding te verbeter. Die John Deere X9 1100 het ’n graantenkkapasiteit van 16 200 liter en ’n uitlaaikapasiteit van 186 liter per sekonde.
“Die stroper bied ’n 50% hoër dors- en skeidingskapasiteit by mielies en 70% meer by koring, met minder as 1% breking en vermorsing van graan, terwyl hy minder as ’n liter diesel verbruik per ton gestroop,” het Du Plessis gesê.
Boere was beïndruk met die X9 se werking op die boeredag met mnr. Wimpie Louw van Vredefort wat die sigbaarheid vanuit die X9 se kajuit beklemtoon het. “Dit gaan veral help tydens sojaboonstroop waar fyn stof sigbaarheid belemmer. Die ontwerp en uitleg van die X9 is egter van so aard dat dit sigbaarheid verbeter en veral met sy wyer strooptafel is dit ’n groot voordeel,” het Louw gesê.