'n Populierbos wat hom 10 jaar gelede gepla het omdat dit hom van grond ontneem het wat hy eerder
vir besproeiingsdoeleindes kon gebruik,was die begin van mnr. Sais Odendaal van die plaas Harvard, Rouxville, se saagmeule-onderneming.
Hy sê hy het noustrop getrek weens sy melkery en besproeiingsboerdery se hoë produksiekoste, 'n lae melkprys, groot veeverliese weens diefstal en sy kinders se duur universiteitsgelde.
Om koste te bespaar, het hy sy melkboerdery gestaak. Sy veegetalle moes hy noodgedwonge afbring omdat sy plaas teen die N6-hoofweg geleë is en hy weens veediefstal nie vee in kampe na aan die pad
kan aanhou nie.
Duurder besproeiingswater (sy plaas is op die oewer van dieOranjerivier geleë) het sy besproeiingskoste só opgestoot dat hy dié boerderyvertakking noodgedwonge moes afskaal. Hy het mielies en lusern asook uie-, wortel-, raap- en ertjiesaad op kontrak vir groot saadmaatskappye verbou.
Odendaal het aanvanklik 'n vuurhoutjiemaatskappy genader omdie populierbome te kom afsaag, maar hulle het nie belang gestel nie. Hy het toe van iemand in Mpumalanga met 'n mobiele saagmeule gehoor en hom gevra om die bome te kom afsaag en tot planke te verwerk.
"Ons het 'n ooreenkoms aangegaan: Hy verskaf die sae, ek hou toesig oor die werk en hy bemark die hout. In ruil vir my werk en my hout kry ek 'n deel van die wins."
Die proses op die plaas het ongeveer drie maande geduur. Twee vragte hout van altesame 42m³ meter is uit die bos gesaag.
Daarna het meer oewerboere van die omgewing begin naderstaan en vir Odendaal gevra om ook húl bosse uit te saag. Hy het die hout by hulle gekoop en sy vennoot het dit bemark.
Ten spyte van 'n groot vraag na die diens wat hulle gelewer het, was die winsgrens te klein vir albei om voordeel daaruit te trek. Die onderneming is op 'n te klein skaal bedryf en moes meeding met talle groot maatskappye in die bedryf. As 'n mens op klein skaal in hierdie bedryf wil oorleef, moet jy jou koste tot die minimum beperk, anders is dit geldgewys nie die moeite werd nie, sê Odendaal.
Sy vennoot het einde 2000 onttrek. Ná drie jaar in die besigheid het Odendaal genoeg van die bedryf se markvereistes en afsetgebiede geleer sodat hy man-alleen die mas sou kon opkom. Hy het toe sy eerste
elektriese swaaikopsaag gekoop. Hierdie sae se lopende koste is laer as dié van petrolaangedrewe
sae en hulle gee minder meganiese probleme.
Om koste te bespaar, het hy self nog 'n swaaikopsaag gebou. Die sukses daarvan het meegebring dat hy later nóg twee van dié sae vir eie gebruik gebou het. Die geld wat hy só gespaar het, het hom gehelp om finansieel te oorleef.
Danksy sy hoër winsgrens, kon Odendaal later 'n nasaagmasjien bekostig. Hierdie masjien het die produktiwiteit heelwat verbeter. 'n Swaaikopsaag kan nie die dun planke so vinnig saag soos 'n nasaagmasjien
nie.
Hy kon later ook 'n werktuig aanskaf waarmee die stompe opgelaai kan word asook drie ou vragmotors wat hy self herstel het. Op een van die vragmotors het hy 'n hyskraan gemonteer.
Odendaal bedien deesdae grondeienaars in 'n radius van meer as 200 kilometer in die Suid-Vrystaat en die Noordoos-Kaap. Hy vervoer sy sae en werkers na die betrokke plase waar sy dienste benodig word.
"Boere bel my en vra my om hul bosse te kom uitsaag. Ek betaal hulle vir die hout."
Alles word op die betrokke plaas gesaag - stompe, blokke en planke. Daarna neem 'n vervoermaatskappy die verwerkte produkte na Odendaal se houthandelaars.
Odendaal is egter nou besig om 'n skuur op sy plaas te bou wat hy as fabriek wil inspan. Hy wil voortaan slegs die stompe op 'n klant se plaas gaan saag. Die res van die hout wil hy op sy eie plaas verwerk.
"Ek sal baie op vervoerkoste bespaar as ek nie elke keer my sae na die klante toe hoef te vervoer nie en die vervoermaatskappy alle verwerkte produkte op een sentrale plek kan oplaai."
Tans kan hy nie alle houtafval terugvervoer na sy eie plaas toe nie omdat dit nie kostedoeltreffend is nie. 'n Skuur op
sy plaas sal hom in staat stel om alle afval te behou. Hy sal dit dalk teen 'n wins kan bemark omdat onnodige vervoerkoste uitgeskakel word.
Dit sal ook sy werkers minder ontwrig. "Hulle boet vanselfsprekend gesinstyd in wanneer hulle elke keer twee tot vier weke lank op 'n boer se plaas moet gaan woon. Ons saag twee tot 10 vragte per klant."
Om 'n eie fabriek op die plaas te hê, kan ook rantsoenkoste beperk. "Ek glo nie daaraan om op werkers se mae te bespaar nie. 'n Honger werker is onproduktief. Daarom gee ek - afgesien van hul salarisse - vir hulle ruim rantsoene in die tyewat hulle op ander plase werk. As hulle meestal van hul eie huise af op my plaas werk, hoef ek nie
daardie ekstra koste aan te gaan nie."
Odendaal waarsku dat die houtbedryf uiters uitdagend is. "Heelwat ander mense in my omgewing het dit al sonder sukses probeer. Die toerusting is duur. Ek moes oor die jare heen heelwat geld aan toerusting bestee. Dit is ten spyte van die feit dat ek die meeste toerusting self gebou het. As ek alles moes aankoop, sou dit my seker twee tot drie keer soveel gekos het."
Die grootste tameletjie is om 'n afsetgebied te kry en te behou,meen hy. "Daarsonder mors 'n mens jou tyd.
"Houthandelaars is baie skepties oor nuwe toetreders tot die bedryf - veral diegene soos ek wat op klein skaal hout lewer. Hulle het ook geweldig streng gehaltevereistes en 'n magdom voorskrifte. Om volgens hul vereistes te saag, verg genoegsame ondervinding en kennis."
Hy het darem nie sy ander boerdery-aktiwiteite heeltemal agterweë gelaat nie. Met die kinders wat uit die huis is en die inkomste uit sy saagmeule is hy nou in 'n beter posisie om weer sy besproeiingsboerdery met mening aan te pak.
Hy en sy vrou, Erna (wat ewe ywerig saamboer), wil hulle veral op lusernverbouiing en later ook die vestiging van
voerkrale toespits. "Daar bly maar 'n groot vraag na lusern."
1078.
Landbouweekblad, 7 Desember 2007