'n Plaaswerker het 'n plan gemaak om plaaswerk vir hom én sy werkgewer makliker te maak. Danksy dié werker se toestel is die woeligste skaap nou so mak soos 'n lam as hy ingespuit of sy kloutjies geknip word.
Watter skaapboer het nog nie geswets en gesweet as dit by 'n weerbarstige skaap of twee kom wat alles ontwrig nie?
Dit is nou goed en wel om die skaap aan sy agterbeen te vang, op sy boude om te keer en vas te hou terwyl iemand anders die inspuitwerk of ander werk aan die skaap doen. Dit werk gewoonlik seepglad, maar af en toe is daar 'n parmantige skaap wat nie wil sit, lê of staan nie. Dan is die skaapkraal in rep en roer, soos almal spook om skaap se kind in bedwang te kry.
Mnr. Piet Motsoneng werk op dr. J.H. Cameron se hoewe van 25 hektaar by Potchefstroom. Cameron, 'n oud-skoolhoof, is baie kere weg van die hoewe om klante op jagsafari's te vergesel. Dan moet Motsoneng met net een kollega die Dorpers versorg. Soms is hy stoksielalleen. Dis dié dat hy 'n plan gemaak het en net met Cameron as toevallige raadgewer 'n toestel ontwerp en gebou het wat hy 'n skaapsaal noem. Dié toestel maak dit moontlik om maklik met die skape te werk. Hulle het grotendeels ou afvalyster op die hoewe daarvoor gebruik en net enkele stukke staal nuut aangekoop. Motsoneng het self die sweiswerk gedoen. Na 'n paar proefnemings was hy tevrede met die skaapsaal. Dit bestaan uit 'n geutvormige stuk staal op pote waarin die skaap op sy rug neergesit en met sterk nylonbande. vasgemaak word. Een band om die lyf en een band om die nek. Hy kan dan die skaap doseer, inspuit of 'n wond behandel. Die skape het beperkte beweegruimte op die hoewe en hul kloutjies slyt nie vanself af nie - anders as op 'n groot plaas waar hulle groter afstande aflê om te wei. Die versorging van die kloutjies is dus een van die take wat nougeset uitgevoer moet word.
As die werk aan die skaap klaar is, maak Motsoneng die bande los, laat die geut sak - dit is net aan die een kant permanent vasgebout - laat sak die een kant grond toe en die skaap gly op sy boude uit.
Hy sê een van die voordele van die skaapsaal is dat die skape sagkens gehanteer word. Hulle word dus nie verwilder nie en dra by tot 'n rustige atmosfeer op die plaas.
10 September 2004