Met kombinasieslotte soos dié hoef 'n boer nooit weer daardie magtelose gevoel te kry as hy sy bos sleutels verlê of - nog erger - verloor het nie.
Frustrasies met konvensionele hangslotte op die plaas en 'n vrugtelose soektog na geskikte kombinasieslotte het hierdie Kalahari-boer laat besluit om sy eie robuuste en peutervrye kombinasieslot te ontwerp en te maak.
Mnr. Pierre van Heerden van die plaas Perdevlei naby Reivilo in Noordwes sê alle boere het hekke wat gesluit móét word, veral dié wie se grond aan openbare paaie grens.
Op plase is konvensionele hangslotte aan die natuurelemente uitgelewer en hulle gee maar die een of ander tyd probleme.
"Soms roes die slot vas of breek die sleutel af wanneer 'n mens die slot probeer oopsluit. Ander kere raak die sleutel weg of jy vergeet dit by die huis, in die skuur of in 'n ander voertuig. Telkens wanneer iemand anders die hek wil gebruik, moet jy eers 'n sleutel aan daardie persoon besorg. In die geval waar jou plaas 'n paar kilometer van die grootpad af is, moet jy vooraf 'n sleutel gee aan elkeen wat vir jou wil kom kuier," sê hy.
Met hierdie klomp frustrasies in gedagte het Van Heerden begin dink aan 'n eenvoudige, peutervrye en robuuste kombinasieslot wat ewe doeltreffend aan 'n hekpaal as aan 'n veiligheidsdeur gebruik kan word. Nie 'n enkele kombinasieslot wat in die handel beskikbaar is, het aan sy vereistes voldoen nie.
Die ideale slot, het Van Heerden gedink, moet van 'n sweisbare materiaal wees sodat dit aan 'n hek of 'n hekpaal vasgesweis en maklik herstel kan word. Verder moet jy die slot se kombinasies vinnig en maklik kan verander en dit moet met die kleinste hoeveelheid penne die grootste verskeidenheid kombinasies bied.
Ná ongeveer 20 prototipes en vyf jaar se ontwikkelingswerk het hy nou voorlopige patentregte geregistreer op 'n besonderse kombinasieslot.
Hierdie slot kan met twee of meer penne vervaardig word. Elke pen het vyf diepteposisies wat duidelik deur verskillende kleure aangedui word. Daarby kan jy elke pen in een van vier verskillende rigtingposisies verstel.
'n Slot met twee penne met vyf diepteposisies elk bied dus 25 verskillende dieptekombinasies (5 x 5 = 25). Deur elke pen op elke diepteposisie in enige van die vier rigtingposisies te verstel, beteken dit 'n verdere 20 kombinasies per pen (5 x 4 = 20). Dit gee vir jou altesaam 400 moontlike rigting-kombinasies (20 x 20 = 400).
Volgens Van Heerden bied twee penne voldoende sekuriteit vir plaasgebruik, maar daar kan vir nog beter sekuriteit na slotte met drie of vier penne gekyk word. 'n Slot met drie penne bied 8 000 (20 x 20 x 20) kombinasies, terwyl 'n slot met vier penne 160 000 (20 x 20 x 20 x 20) moontlike kombinasies bied. Die basiese ontwerp van die slot maak voorsiening vir enige aantal penne.
Indien dit sowat twee sekondes sou duur om een enkele kombinasie van 'n vierpen-kombinasieslot uit te toets, sal dit 'n booswig ongeveer 89 uur (160 000 x 2 sekondes) lank besig hou om ál die kombinasies te toets, sê hy.
Onder die talle voordele wat dié kombinasieslot het, is die feit dat dit verskillende kleure in die gleuwe op die penne het wat die diepte aandui en dat die penne in vier rigtings verstel kan word. Ongeletterde en swaksiende persone kan dit dus ewe maklik gebruik. Swaksiendes wat nie die kleure kan sien nie, kan steeds die gleuwe tel.
Wanneer die slot oopgetrek word, spring die penne self uit die kombinasieposisie na 'n neutrale posisie. Die slot word in dié neutrale posisie toegedruk. Jy kan die kombinasie slegs verander deur die slot oop te maak en die glystuk uit die slot te verwyder, sê Van Heerden.
9 September 2005