Die lastige grassade wat sy voertuie se verkoelers só toegepak het dat dit kort-kort uitgehaal en skoongemaak moes word, was 'n doring in dié boer se vlees. Toe maak hy 'n plan en bou 'n middelmansnyer.
Dié tandarts het 'n paar jaar gelede besluit die plaas is verkiesliker bo die spreekkamer. Toe gaan boer dr. Nelis Moll voltyds op Langverwacht, naby Vryheid in KwaZulu-Natal.
Hy bedryf 'n bees- en 'n wildplaas. Op albei plase is grassade wat verkoelers verstop 'n groot irritasie. Op die wildplaas, waar daar nie 'n trekker is nie, is die probleem die grootste omdat daar baie plaaspaadjies is wat nie gereeld gebruik word nie en dan deur gras toegegroei word.
Om 'n trekker met 'n snymasjien op die wildplaas te kry, was groot moeite en baie onprakties. Dit het gelei tot 'n grassnymasjien wat hy 'n middelmansnyer noem. Dié werktuig het hom uiteindelik minder as R3 000 gekos. Dit kan agter enige voertuig met 'n sleephaak getrek word.
Hy het die ewenaar van 'n drietonvragmotor, met 'n ratverhouding van 1:6, by 'n skrootwerf gekoop. 'n Raam van kanaalyster (120 mm by 20 mm en 50 mm dik) is gebou en die ewenaar is 90 grade gedraai sodat die dryfasaandrywer boontoe wys.
Om dit te laat werk, moes hy die "asemgaatjie" van die ewenaar met 'n prop toemaak en 'n nuwe een in die huls boor. Hy het dit só geplaas dat hy die hele ewenaarhuls vol olie kan gooi om goeie smering te verseker.
Dié aandrywer word gebruik om 'n as te draai waarop 'n dubbele katrolwiel, met 'n deursnee van 380 mm, geheg is. Voor aan die raam is nog 'n vertikale as aangebring waarop ook 'n dubbele katrolwiel, met 'n deursnee van 320 mm, geheg is. Dié as word met 'n laer in posisie gehou. Onder aan die as is 'n balk met snylemme van 'n Falcon-snymasjien vasgesit. Twee V-bande dra die aandrywing van die agterste katrolwiel vorentoe oor.
Die voorste as waaraan die sny-eenheid is, is aan die raam vasgeskarnier sodat 'n mens die spanning op die V-bande maklik skiet kan gee om die bande af te haal sodat jy die snymasjien vinnig kan sleep wanneer nodig.
Met die V-bande gespan, werk die eenheid op sy beste as dit nie vinniger as sowat 15 km/h gesleep word nie. Jy kan die ratverhouding of die grootte van die katrolwiele verander waar plase groter is en jy vinniger wil werk.
Aanvanklik het Moll 'n byderwetse verstellingstelsel met 'n bout en skroefdraad gebruik om die spanning op die V-bande skiet te gee, maar dit was baie omslagtig. Toe span hy 'n tou in wat hy met 'n stok opwen en aan die raamwerk vashaak. Dit werk uitstekend.
Die agteras van die vragmotor was toegerus met dubbelwiele, maar hy gebruik net die twee binneste wiele. Dit maak die eenheid smaller om makliker deur hekke en om draaie te beweeg. Die sporing is effens nouer as dié van 'n gewone bakkie. Die snywydte is egter wyer as die wiele, wat verseker dat jy 'n behoorlike pad skoonsny.
Afgesien van twee nuwe planterbande, 'n paar laers en die twee V-bande, het hy ál die onderdele by 'n skrootwerf gekoop. Die as vir die sny-eenheid het hy by 'n inge-nieursonderneming laat maak.
Die bande was die duurste. Aanvanklik het hy gewone vragmotorbande gebruik, maar as die gras lank en welig gegroei het, het die wiele gegly. Dan het die sny-eenheid nie gewerk nie.
Afgesien van die planterbande, wat beter vastrap, het hy ook 'n stuk treinspoorstaaf dwars agter op die raam vasgesit vir meer gewig en beter vastrap.
'n Groot voordeel van die snylem wat voor die wiele geplaas is, is dat die snywydte wyer as die wielsporing kan wees. 'n Nadeel is egter dat op ongelyk terrein met skerp walle die snylem die grond kan raak voordat die wiele oor die wal loop om dit te lig.
Maar op Moll se plase werk die middelmansnyer klopdisselboom en is die probleem van grassade wat sy siel versondig het, nou grootliks opgelos.
23 Junie 2006