Altesaam 200 stropers het in ‘n Kanadese koringland ‘n nuwe Guinness-wêreldrekord opgestel vir die meeste stropers in dieselfde land.
Dít was alles deel van die Oes vir Kinders-projek.
Me. Amanda Mochan, ‘n Guinness-beoordelaar, het die gebeurtenis as wonderlik beskryf. “Nie net breek mense wêreldrekords nie, maar dit is vir ‘n goeie doel ook.”
Die vorige rekord is deur 175 stropers opgestel. Om te kwalifiseer, moet stropers gelyktydig vir minstens vyf minute stroop. Dié stropers het 408 metrieke ton lentekoring op 120 ha op ’n plaas naby Winkler in Manitoba in minder as 11 minute kaf gedraf.
Verskeie splinternuwe stropers, waarvan tweederdes John Deere was, is deur handelaars in Suid-Manitoba geskenk. Dit was hul eerste ervaring met die insameling van ’n oes in Manitoba. Bestuurders het van oral in die land gekom. ’n Plaaslike boer, mnr. Jack Froese, en sy twee broers het die gebruik van hul grond vir die aanplanting van die koring geskenk.
Hier is die altesaam 200 stropers besig om hulself in die rekordboeke te stroop.
“Al die geld wat tydens die geleentheid ingesamel is, sal aangewend word om kinders in ontwikkelende lande na Christelike kampe te stuur wat deur Children’s Camps International bestuur word. Sodoende kry minderbevoorregte kinders ’n geleentheid wat hulle nie andersins sou hê nie,” sê mnr. Harry Siemens, veteraan Kanadese -landboujoernalis en radiokommentator.
“Minstens 50 000 kinders gaan daarby baat vind. Dit was ’n geleentheid wat trane in die oë van die organiseerders, boere en baie toeskouers gebring het,” het hy bygevoeg.
Mnr. Mel Panner, ’n vooraanstaande boer en organiseerder van die stropers, het gesê die geleentheid het bewys wat boere kan verrig en wat die Here vir ons kan doen. “Hy kan dinge laat gebeur.”
Children’s Camp International is 2003 in Indië gestig. Sedertdien het 600 00 kinders in ontwikkelende lande, insluitend Afrika, kampe bygewoon. Tot dusver vanjaar (2010) het 170 000 kinders reeds kampe bygewoon.
24 Augustus 2004