
Stroperverkope het in Julie ‘n drastiese jaar-op-jaar daling van 50% aangeteken, terwyl trekkerverkope 5% laer was, sê die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (SAAMA).
Luidens ‘n verklaring is nege stropers verlede maand verkoop, terwyl 18 stropers in die ooreenstemmende tyd verlede jaar verkoop is. Trekkerverkope vir Julie was 427 eenhede, teenoor dieselfde maand verlede jaar se 450 eenhede.
Trekkerverkope vir die jaar tot dusver is 14% laer as dieselfde tydperk verlede jaar. Stroperverkope vir die jaar tot dusver is 36% laer as dié van die eerste sewe maande van 2009.
Redes vir die dalings
Volgens SAAMA het die ongunstige faktore waarna in vorige maande verwys is, soos die vertraagde oes van somergewasse en lae mieliepryse, steeds ’n nadelige uitwerking op die mark.
Die assosiasie sal eers oor twee of drie maande ‘n beter aanduiding kan gee oor die rigting waarin die mark beweeg, veral omdat boere tans nie onder enige druk is om onmiddellike besluite te neem oor aankope nie.
Die trekkermark word tans versterk deur onlangse Regeringstenders. Die tenderbedrywighede sal na verwagting vir die volgende paar maande voortduur.
SAAMA bereken dat trekkerverkope vanjaar op sowat 5 000 eenhede te staan sal kom. Dit is sowat 10% laer as verkope verlede jaar.
5 Augustus 2010