
Die afgelope vier maande het trekkerverkope in die land redelik wipplank gery. In Desember verlede jaar is ’n skerp daling in vergelyking met dieselfde maand in 2011 aangeteken. Op ’n jaargondslag het verkope in Januarie en Februarie dié jaar toegeneem.
Die toename is egter gestuit ná verkope in Maart die jaar, jaar-op-jaar, ’n daling van 7,8% aangeteken het. Luidens ’n verslag van die SA Landboumasjienerie-verenging (SAAMA) is 595 eenhede verlede maand verkoop, terwyl verkope in Maart 2012 altesaam 645 eenhede beloop het.
“Vir die jaar tot dusver is trekkerverkope byna 6% laer as verkope gedurende die eerste kwartaal van verlede jaar,” lui die verslag.
Skerp toename in stroperverkope
Intussen het stroperverkope vir dieselfde tydperk ’n reuse-styging van 213% aangeteken. ’n Totaal van 72 stropers is verlede maand verkoop, terwyl die verkope vir Maart verlede jaar 23 was.
Vir die jaar tot dusver, in vergelyking met die eerste drie maande van verlede jaar se stroperverkope, is ’n styging van 143% aangeteken.
Laer trekkerverkope in 2013
Die vereniging verwag dat trekkerverkope vir die jaar, in vergelyking met verlede jaar, met tussen 10% en 15% kan daal. Altesaam 7100 eenhede is verlede jaar verkoop, met verkope wat vir die jaar op 6700 eenhede geraam word.
Fundamentele aspekte in die mark wat die aankoop van masjienerie beïnvloed, lyk volgens SAAMA gunstig. Die vereniging sê die droogte en potensiële skade aan oeste maak kopers huiwerig. “Op grond van die droogte vertraag sekere potensiële kopers aankope totdat gewasse geoes is en hulle seker is van die opbrengs.”
’n Lewendige korttermynmark word egter voorspel, omdat boere voordeel wil trek uit die verswakking van die rand wat laer pryse vir toerusting tot gevolg het.