Twee oulike landbouwerktuie is pas deur twee broers ingevoer om oulandsgras te sny en te baal. Die een, ’n snymasjien, speel met 40 morg (34 ha) op ’n dag klaar en die ander een, ’n selfaangedrewe baalmasjien, hardloop soos ’n windhond.
Hy spuug tot nege bale per minuut uit! Die broers mnre. Jack en Julius Kahn van Middelburg (Transvaal) is beesboere wat sowat 8 000 morg (6 854 ha) onder Eragrostis curvula (oulandsgras) het waarmee hulle hul duisende beeste voer.
Hulle sny hierdie gras af, baal dit en voer dit in die winter, afgesien daarvan dat hulle dit ook as weiding en rusoes vir hul mielies gebruik. Om so ’n tamaai stuk graswêreld te behartig, moet die gras vinnig afgesny en gou gebaal kan word.