In John Deere se 6020-trekkerreeks word vierklepenjintegnologie en 'n
gemeenskaplike dieseldrukbuis saam ingespan om die drywing te verhoog en
bedryfskoste te verlaag.
Dit was net 'n kwessie van tyd voordat die moderne dieseltegnologie wat deesdae redelik algemeen in passasiersmotors gebruik word, ook na trekkers sou oorspoel.
Mnr. Johan Joubert van John Deere Suid-Afrika sê in die jongste enjinontwikkeling van John Deere se 6020-kajuittrekkerreeks word onder meer vierkleptegnologie en 'n gemeenskaplike dieseldrukbuis ("4 Valve/Common Rail") gekombineer.
Hierdie kombinasie, saam met 'n volledige elektroniese enjinbeheerstelsel, lewer beter werkverrigting en voldoen nou reeds aan die Europese Unie se nuwe streng riglyne vir die beperking van skadelike uitlaatgasse wat op 1 Julie in werking tree.
In die klas vir trekkers van 75 kW tot 130 kW is John Deere die enigste trekkervervaardiger wat hierdie tegnologie saam gebruik, sê mnr. Joubert.
Die 6020-kajuittrekkerreeks van 74 kW tot 110 kW word toegerus met 'n PowerTech 4V-CR viersilinderenjin van 4,5 l of sessilinderenjin van 6,8 l.
Mnr. Joubert sê die nuwe PowerTech 4V-CR-enjins spog nou met 'n nuwe, moderne hoëdruk-dieseltoevoerpomp, 'n gemeenskaplike dieseldrukbuis, nuwe inspuiters en 'n gevorderde elektroniese enjinbeheerstelsel.
Die enjinbeheerstelsel gaan die enjinomwentelinge, die versneller se posisie, die druk en temperatuur van die lug in die inlaatstelsel, die temperatuur van die brandstof en verkoelingsvloeistof asook inligting van ander kontrolestelsels, soos die transmissie, na.
Die stelsel gebruik ál hierdie inligting om in alle toestande presies die regte hoeveelheid brandstof te lewer.
Die Europese Unie se nuwe regulasies vir uitlaatgasse stel hoë vereistes. Die uitdaging aan alle enjinvervaardigers is om aan hierdie riglyne te voldoen sonder om werkverrigting, brandstofverbruik, bedryfskoste en betroubaarheid in te boet.
Die 6020 se drywing is met 40 % verhoog. Die volgehoue hoë wringkrag teen lae tot mediumenjintoere verhoog die produktiwiteit, tesame met 'n uiters ekonomiese brandstofverbruik. 'n Turbo-aanjaer, tussenverkoeler, die dubbele verkoelingstelsel en die beproefde PowerCore-lugfiltreerstelsel is steeds standaardeienskappe. Die resutaat van die kombinasie van die nuwe enjintegnologie is volledige ontbranding, vinnige enjinreaksie in wisselende toestande, meer krag en verhoogde produktiwiteit teen laer enjintoere. Trekkers met die nuwe tegnologie sal aanstaande maand beskikbaar wees. 21 Februarie 2003