
Die trekkerverkope van 221 eenhede vir Desember was byna 50% minder as die 440 eenhede wat gedurende die vorige Desember verkoop is, sê mnr. Leon Pretorius, voorsitter van die SA Landboumasjinerie-assosiasie.
Algehele trekkerverkope van 5 550 eenhede in 2009 was bykans 27% laer as verkope van 7 552 eenhede in 2008. Stroperverkope in Desember was aansienlik laer as verkope vir die vorige Desember. Algehele stroperverkope in 2009 was 275 eenhede, 19% laer as die 341 eenhede wat in 2008 verkoop is.
Pretorius sê een van die belangrikste probleme vir die vergelyking van syfers vir 2009 en 2008 is dat die algehele verkope van trekkers en stropers in 2008 besonder goed was. In perspektief gesien, is verkope vir 2009 dus nader aan die "normale" verkoopvlakke van 2005 tot 2007.
“Die meeste van die fundamentele faktore wat op die oomblik die mark beïnvloed, soos rentekoerse, relatief lae graanpryse en streng bankfinansieringsvereistes, bly van toepassing. Potensiële kopers van landboutoerusting toon steeds omsigtigheid, ten spyte van die kopersmark.
“Die vraag in die mark bly nietemin redelik sterk. Klimaatstoestande in die meeste van die somergewasgebiede was redelik goed en die meeste gewasse is nou blootgestel aan die kritieke tydperk in Januarie en Februarie wanneer voldoende reën noodsaaklik is om ’n goeie opbrengs te verseker.
12 Januarie 2010