
Altesaam 670 trekkers is verlede maand in Suid-Afrika aangeskaf. Dít is 5% minder as die 704 trekkers wat in Junie vanjaar verkoop is.
Dit is die eerste maand vanjaar dat die verkope van landboumasjinerie laer was vergeleke met die vorige maand. Luidens ’n verklaring bly verkope vir die jaar, ten spyte van die daling, steeds 25% hoër vergeleke met die ooreenstemmende tyd in 2011.
Stroperverkope het verlede maand die hoogte ingeskiet met ’n toename van 60% vergeleke met Junie. Vir die jaar tot dusver is stroperverkope sowat 52% hoër as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
Lewendig
Die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-vereniging (Saama) sê die mark bly lewendig, veral met boere wat sekerder is oor die algehele waarde van hul oeste noudat die oeste ingesamel is. “Dit beteken dat hulle vroeër en met groter vertroue besluite kan neem,” lui die verklaring.
Wat verwagtinge vir die res van die jaar betref, voorspel Saama dat ’n moeilike tydperk nou betree gaan word. Hoewel die vereniging verwag dat die gunstige vlakke van pryse vir mielies voortgesit sal word, bestaan twyfel rondom die mark weens die onbestendigheid van die rand.
“Weerstoestande in die laaste deel van die jaar sal waarskynlik die dryfveer wees vir verkope van landboumasjinerie in die res van die jaar,” aldus Saama.