
Trekkerverkope het verlede maand skerp gedaal vergeleke met die verkope wat vir Oktober vanjaar aangeteken is. Volgens ’n grafiek van die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (Saama) is meer as 1 000 eenhede twee maande gelede verkoop. Dit het gedaal tot 554 in November vanjaar.
Luidens ’n verklaring is dié syfer 8,4% laer as die verkope van 605 eenhede wat in November verlede jaar aangemeld is. Verkope vir die eerste elf maande van 2012 is egter steeds 10% hoër vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar.
Stroperverkope vir die jaar is sowat 30% hoër as vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, hoewel die aantal eenhede wat verlede maand verkoop is, gedaal het vergeleke met November 2011.
Lewendige mark
Volgens Saama is die mark vir landboumasjinerie steeds lewendig, soos wat dit vir die grootste deel van die jaar was, terwyl fundamentele aspekte in die mark steeds goed lyk. Die vereniging sê kommoditeitspryse lyk goed en hy verwag dat graanpryse op die huidige vlakke sal bly.
“Somerreën het traag begin in die westelike en noordelike graangebiede en dit beteken dat boere in daardie dele aankope sal uitstel. Intussen het reën in die meeste somergewasgebiede geval en die vooruitsigte vir verkope in Desember lyk nou goed. Opvolgreën is noodsaaklik in al dié gebiede,” lui die verklaring.
Die bedryf verwag dat tussen 8 000 en 8 400 trekkers vanjaar verkoop sal word, wat tussen 10% en 15% meer is as die 7 400 eenhede wat verlede jaar verkoop is.