Trekkerverkope vir Desember in die Suid-Afrikaanse mark, sonder uitvoerverkope, was 261 eenhede. Dit is ongeveer 7 % laer as die 279 eenhede wat in die vorige Desember verkoop is, sê mnr. Charles van Niekerk, voorsitter van die SA Landboumasjinerie-assosiasie.
Stroperverkope vir die maand het skerp gedaal vergeleke met verlede jaar en is byna 9% laer vir die 2007-kalenderjaar. Balerverkope vir Desember was goed, maar algehele verkope vir 2007 was ongeveer 6% laer as vir die vorige jaar.
Van Niekerk sê oor die algemeen is verkope van landboumasjinerie in 2007 effens teleurstellend. In dié kalenderjaar was verkope ongeveer 7% laer as in 2006. Die implikasies van die Nasionale Kredietwet en rentekoerse wat vier keer verhoog is gedurende die jaar, het duidelik 'n onguntsige invloed op die mark gehad.
Met goeie vooruitsigte vir somergewasse en oespryse wat bestendig bly, behoort verkope vir minstens die eerste helfte van 2008 bemoedigend te wees.
14 Januarie 2008