Trekkerverkope van 512 eenhede in Maart was byna 20% laer as die 636 eenhede wat verlede Maart verkoop is, sê mnr. Leon Pretorius, voorsitter van die SA Landboumasjinerie-assosiasie.
Vir die jaar tot dusver is trekkerverkope nou sowat 5% laer as wat dit vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar was. Stroperverkope vir Maart is vyf eenhede laer as verlede Maart, maar vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, is stroperverkope steeds ongeveer 32% hoër vir die jaar tot dusver.
Pretorius sê die meeste van die fundamentele aspekte in die mark vir landboumasjinerie is steeds gunstig. Somergewasse toon goeie potensiaal. Rentekoerse het reeds vanjaar gedaal en vooruitsigte vir verdere verlagings is goed. Hoewel oespryse oor die afgelope maande gedaal het, behoort beter opbrengste te kompenseer daarvoor.
"Daar sal 'n mate van konsolidasie in die mark wees as boere se sentiment verander na omsigtigheid wanneer hulle vooruitsigte vir die toekoms oorweeg. Die sentiment sal waarskynlik volgehou word vir die volgende paar maande terwyl somergewasse geoes word. "
7 April 2009