Trekkerverkope van 529 eenhede in November is byna 27% hoër as die 417 eenhede wat in November verlede jaar verkoop is. Vir die jaar tot dusver is trekkerverkope ongeveer 43% hoër as verlede jaar.
Mnr. Leon Pretorius, voorsitter van die SA Landboumasjinerie-assosiasie, sê stroperverkope bly sterk en vir die jaar tot dusver is verkope ongeveer dubbel wat dit was vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
Indien gekyk word na die jaar, het boere voortgegaan om die geleenthede, wat goeie oeste, goeie kommoditeitspryse en gunstige pryse vir landboutoerusting bied, te benut om verouderende toerusting te vervang. Indien gekyk word na die toekoms, is die aanplant van somergewasse in sekere dele vertraag weens die laat aanvang van somerreën. Dit het daartoe gelei dat sekere boere hulle besluite om landboumasjinerie aan te koop uitstel.
Die onbestendigheid in wêreldmarkte, met die gevolglike invloed op die waarde van die rand, begin nou om pryse vir landboumasjinerie te beïnvloed. Aankope voor die prysverhogings en weerstoestande wat someroesvooruitsigte beïnvloed, is die belangrikste twee faktore wat verkope van landboumasjinerie gaan beïnvloed in die aanloop tot 2009.
4 Desember 2008