Trekkerverkope in die Suid-Afrikaanse mark vir Februarie, sonder uitvoerverkope, was 752 eenhede. Dit is ongeveer 90% hoër as die 394 eenhede wat in Februarie 2007 verkoop is. Trekkerverkope vir die jaar tot dusver is ongeveer 50% hoër vergeleke met verkope vir dieselfde tydperk verlede jaar. Stroperverkope vir die jaar tot dusver is 35% hoër as vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Balerverkope is aansienlik hoër as verkope verlede jaar.
Mnr. Charles Van Niekerk, voorsitter van die SA Landboumasjinerie-assosiasie, sê verlede maand is genoem dat die sentiment in die mark na gunstig gedraai het. Dit weerspieël die goeie somer- en winteroeste, die gunstige weerstoestande en die goeie oespryse. Boere het gereageer en "belastingaankope" gedoen voor die finansiële jaareinde. Verder het baie boere hulle aankoopbesluite vervroeg in die lig van prysverhogings wat nou in die mark gesien word na die onlangse skerp afname in die waarde van die rand.
Die korttermynvooruitsigte bly goed. Boere sal veral kyk na ouer voorraad wat nog beskikbaar is teen laer pryse. Die goeie weerstoestande en die goeie oespryse behoort egter te lei tot 'n volgehoue sterk vraag na landboumasjinerie, selfs teen die hoër prysvlakke, aldus Van Niekerk.
7 Maart 2008